Johan Strauss jnr. volg in pa se spore na streekstitel
Ná ’n uitdagende naweek tussen klippe en bome het ’n jong renjaer rede gehad om fees te vier.
ERMELO – Johan Strauss jnr. is as Northern Regions-tydrenkampioen gekroon ná die uitdagende Dullstroom-tydren op 30 en 31 Oktober.
Hy het die titel in sy eerste volle seisoen verower.
Strauss het deurgaans onder die topdrie geëindig en elke tydren van die seisoen voltooi.
Die Dullstroom-tydren het deelnemers met klipperige terrein, bome en tegnies uitdagende roetes getoets.
Strauss moes op albei dae onder die topvyf eindig om die kampioenskap te beklink.
“Die grootste uitdaging was om die kar op te pas sonder om te veel tyd te verloor,” het hy gesê.
Met Kemaine Venter as navigator het hy die tydren suksesvol voltooi en ’n podiumplek behaal.

Die titel is vir Strauss besonder betekenisvol omdat sy pa, Johan snr., dieselfde kampioenskap in 2024 gewen het.
“Dit beteken baie. Dit was vir my ’n groot voorreg om dit te kon ontvang in my eerste volle jaar van rally.”
Strauss se motorsportbelangstelling het op 13-jarige ouderdom met 4×4-kompetisies begin.
Hy het verlede jaar op 20 aan sy eerste tydren in Ermelo deelgeneem.
Sy pa het ’n belangrike rol in sy ontwikkeling gespeel en help steeds met voorbereiding, inskrywingsgeld en bestuursadvies.
Strauss het die seisoen met ’n vierwielaangedrewe Subaru Impreza voltooi en skryf sy sukses grootliks aan die motor se betroubaarheid toe.
Hy bedank ook Venter en die werktuigkundiges wat die motor gereed gehou het.
In 2027 hoop hy om met ’n vinniger motor deel te neem en sy bestuursvernuf verder te ontwikkel, hoewel sy studies en eksamens steeds voorrang sal geniet.
Strauss meen tydrensport groei in Suid-Afrika en wys op die byna 40 inskrywings vir die Dullstroom-tydren.
Lees meer oor Strauss se motorsportloopbaan, die besondere band met sy pa en sy raad aan voornemende tydrenjaers in die Hoëvelder se gedrukte uitgawe.



