MunicipalNews

Bejaarde inwoner op Ermelo bykans twee weke sonder water voor Msukaligwa Munisipaliteit met herstelwerk begin

“Ek kan nie meer so aangaan nie, ek moet water van my bure met ’n kruiwa na my huis aanry en my wasgoed hoop op. Ek moet elke dag in ’n skottel was.”

‘n Bejaarde inwoner van een van die munisipale huise in Jan van Riebeeckstraat is vir bykans twee weke sonder water gelaat, nadat wat sy vermoed ‘n pyp vanaf haar geiser gebars het.

Me. Ria Botha, is vir die afgelope jaar ‘n inwoner in een van dié huise en het aan die Hoëvelder vertel dat sy die probleem dieselfde dag nog by die munisipaliteit gerapporteer het.

Sy het vertel dat die water deur haar dak begin stroom het, toe sy die kombuiskraan oopgedraai het om haar ketel te vul.

“Ek moes my huis se water toedraai, weens die water wat deur die gat in die kombuisplafon by my huis ingestroom het,” het me. Botha vertel.

“Ek kan nie meer so aangaan nie, ek moet water van my bure met ‘n kruiwa na my huis aanry en my wasgoed hoop op. Ek moet elke dag in ‘n skottel was.”

“Ek is baie gelukkig hier want ek het ‘n dak oor my kop en die mense hier is almal vriendelik, maar die omstandighede waarin ek tans woon raak ondraaglik,” het sy gesê.

Die gat in me. Ria Botha se kombuisplafon waardeur die water in haar huis ingestroom het.

Volgens van die inwoners is die instandhouding die verantwoordelik van die munisipaliteit, maar vir so lank as wat hulle kan onthou is daar geen instandhouding aan enige van die huise gedoen nie, tensy die huurders dit nie self doen nie.

Van die ander inwoners het genoem dat daar ‘n waterpyp in die veld langsaan al verlede jaar gebars het, wat steeds nie reggemaak is nie.

“Die gras word nooit hier gesny nie, en ons kan nie met ‘n gewone grassnyer die gras sny nie. “Die veld is permanent nat van die water wat uit die gebarste pyp loop,” het ‘n ander inwoner gesê.

Me. Ria Botha is moedeloos vir die toestand waarin haar huis in Murraystraat is. Volgens haar het sy die probleme al menigte male by die munisipaliteit gerapporteer.

Nadat inwoners van Ermelo ingespring het en die saak ook onder die munisipaliteit se aandag gebring het, het werkers Saterdag, 26 Januarie begin met die herstelwerk aan me. Botha se huis.

Sy het Maandag, 28 Januarie tydens ‘n gesprek met die Hoëvelder bevestig dat hulle reeds haar water reggemaak het en beplan ook om die huis ten volle te herstel.

“Ek is so dankbaar vir almal wat ingespring het om my te help. Ek is ook dankbaar vir die munisipaliteit wat my huis begin herstel het.”

Sy het spottend bygevoeg dat die dae van water met ‘n kruiwa aanry na haar huistoe, uiteindelik verby is.

Die Hoëvelder het reeds twee weke gelede navraag by die Msukaligwa Munisipaliteit gedoen, maar geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.

Me. Koekie Nieuwenhuizen en me. Ria Botha stoot elke dag die kruiwa om water by me. Botha se huis te kry.
Me. Botha se bad is elke oggend bestrooi met vuilgoed wat vanuit die gat in die badkamer se plafon inval.
Me. Botha se bad is elke oggend bestrooi met vuilgoed wat vanuit die gat in die badkamer se plafon inval.

Related Articles

Back to top button