News

Bejaarde vrou van Ermelo vasgebind en beroof

Volgens Prinsloo het die verdagtes in 'n wit motorvoertuig gevlug.

ERMELO – ‘n Bejaarde vrou is onlangs in haar huis vasgebind en beroof.

Volgens kapt. Carla Prinsloo, die Ermelo SAPD se woordvoerder, is die huis in die mark om verkoop te word.

Twee vroue het die eienaar glo genader en gevra of hulle daarna kan kyk. Hulle het haar ook vir water gevra. Sy het hulle na die kombuis toe geneem.

Volgens Prinsloo was daar reeds vier mans in die kombuis. Toe die eienaar die twee vroue die kombuis wys, het die mans haar oorrompel.

Volgens die eienaar kon sy nie sien of die vroue saam met die mans gewerk het, en of hulle maar net blote bystanders tot die misdaad was nie.

Die eienaar is nie seker wat van die twee vroue geword het toe sy oorrompel is nie.

Prinsloo kon ook nie bevestig dat die twee vroue en die vier verdagtes in samewerking met mekaar is nie.

Die verdagtes het die eienaar se hande en voete met kabelbinders vasgebind en haar in die studeerkamer toegemaak. Hulle het die huis vir waardevolle items deursoek, en juweliersware, skilderye en ‘n selfoon gebuit.

Volgens Prinsloo het die verdagtes in ‘n wit motorvoertuig gevlug.

Lees die volledige berig in Hoëvelder.

Related Articles

 
Back to top button