Crime

Ermelo-verkragtingsaak: Twee mans bly ná verdere hofuitstel in aanhouding

Die drie beskuldigdes het Maandag weer verskyn nadat die saak verlede week weens beoogde veranderinge aan hofbeamptes uitgestel is.

ERMELO – Die twee mans wat saam met ’n vrou in verband met die beweerde verkragting van ’n minderjarige in hegtenis geneem is, bly in aanhouding nadat die saak Maandag, 16 November, weer in die Ermelo-landdroshof voorgekom het.

Al drie beskuldigdes het weer verskyn nadat die saak verlede week uitgestel is om reëlings vir ’n landdros en aanklaer van buite die Ermelo-gebied te tref.

Die hof is Maandag meegedeel dat die partye gereed is om met die borgtogaansoek voort te gaan.

Die saak is tot Maandag, 23 November, uitgestel.

Die twee mans is weer in aanhouding teruggestuur, terwyl die vrou op haar bestaande borgtog vry bly.

Die mans is sedert hul inhegtenisneming op 6 November in aanhouding en sal teen hul volgende hofverskyning op 23 November reeds 17 kalenderdae aangehou wees.

Die jongste verwikkeling volg op verlede week se onverwagse gebeure toe die voorsittende landdros op Woensdag, 11 November, besluit het om hom in belang van geregtigheid aan die saak te onttrek.

Hy het verwys na die aansienlike aandag en belangstelling wat die saak plaaslik ontlok het en aangedui dat hy van voorneme is om ’n landdros van buite die Ermelo-jurisdiksie te laat kom om die saak verder aan te hoor.

Volgens die landdros moes reëlings ook getref word om ’n aanklaer van buite die gebied by die verrigtinge te betrek.

Die verdediging het tydens daardie hofverskyning navraag gedoen oor hoe lank dit sou neem om die nodige reëlings af te handel.

Hulle het voorgestel dat die saak tot Vrydag, 13 November, uitgestel word.

Die landdros het egter verduidelik dat hy wel op kantoor sou wees, maar dat dit nie noodwendig beteken dat die reëlings reeds teen daardie tyd afgehandel sou wees nie.

Hy het Maandag, 16 November, as ‘n meer geskikte datum beskou.

Die saak is gevolglik tot dié datum uitgestel om die nodige reëlings te tref.

Die drie volwassenes, twee mans en ‘n vrou, is aanvanklik op 6 November in hegtenis geneem.

Hulle het op 9 November vir die eerste keer in die Ermelo-landdroshof verskyn.

Die vrou is tydens dié verskyning op borgtog vrygelaat, terwyl die twee mans in aanhouding gebly het.

Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het op 9 November aan die Hoëvelder bevestig dat ‘n verkragtingsaak geopen en drie verdagtes in hegtenis geneem is.

“Die polisie kan nie verdere inligting bekend maak nie, aangesien die saak ‘n minderjarige betrek en reeds voor die hof dien,” het Masondo destyds gesê.

Die Hoëvelder weerhou steeds sekere besonderhede van die saak op regsadvies, onder meer om die minderjarige se identiteit te beskerm en verantwoordelike beriggewing te verseker.

Die publikasie het reeds in sy vorige berig verduidelik dat die bekendmaking van inligting in sake van hierdie aard bepaalde wetlike oorwegings meebring, veral wanneer minderjariges betrokke is.

Die besluit om sekere besonderhede voorlopig te weerhou, is nie daarop gemik om enige beskuldigde teen openbare kritiek te beskerm nie, maar om die regte van alle betrokkenes te respekteer en akkurate beriggewing te verseker.

Alle beskuldigdes word as onskuldig beskou totdat hul skuld bo redelike twyfel in ‘n hof bewys is.

Enigiemand wat moontlik ook ‘n slagoffer is of oor inligting beskik wat met die ondersoek verband kan hou, word versoek om die ondersoekbeampte, speurkonstabel XPG Gama, by 076 765 6975 óf lt. kol. Corné Kemp by 082 922 9243 te kontak.

Die saak kom weer op Maandag, 23 November, voor.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button