
Terwyl mens nog jonk is, dink jy openbare vakansiedae is die beste ding sedert die spreekwoordelike gesnyde brood.
Mense wat vir ‘n baas werk of werknemers van ‘n staatsinstansie of sakeonderneming dink maar oor die algemeen ook so. Hoe meer vakansiedae en hoe meer langnaweke, hoe beter.
Dan word daar ook slim met die almanak te werk gegaan om ekstra dae te “score” deur vir drie werksdae amptelike verlof te neem en so sewe bykomende dae te wen.
Vir sekere bedrywe werk dit egter nie so wonderlik nie, veral nie klein ondernemings of eenmansake nie.
Elke dag wat daar nie produktief gewerk word nie beteken verlies aan inkomste en geld moet gevind word om steeds die mense te betaal wat vakansiedae ge-“score” het en by die see of ‘n vakansieplaas of êrens in die bosveld sit.
Die kort werksweke besorg ook vir ons in die koerantwese hoofbrekens.
Spertyd bly spertyd, maar meeste van die kontakpersone is met vakansie en nuusbronne is maar skaars.
Die horlosie teen die muur tik onsimpatiek voort en weier om mens uitstel te gee.
Daar word geskarrel en gebel, gebel en geskarrel en ons trek ons geduldige maskers aan om die ongeduld en paniekerigheid te verbloem.
Tog val alles in plek as dit by spertyd kom. Die koerant word saamgestel, uitgelê en drukkers toe gestuur om betyds op straat te verskyn.
Die geskarrel is vir ‘n paar uur verby, maar die volgende dag begin alles weer van vooraf en die kalender roep uit: ” Raai, raai, nog ‘n kort week lê vir julle nuusmense voor!”
Die hol kol op die maag wil-wil weer sy buiging maak.
Maar dan kom die wete dat ons getroue lesers gereeld hulle nuusgebeure met ons deel.
“Weet julle van dit of dat,” “Het julle gesien daar by die…,” “Die of daai een het presteer, skryf bietjiedaaroor.”
Dit, saam met die stories wat ons joernaliste self uitsnuffel, maak dat ons ondanks die senuwees wat weekliks knaag, steeds ‘n koerant uitbring, ongeag die kort weke.
Party mense gee hul oor aan aktiwiteite soos reksprong of valskermspring vir hul “adrenalien-stormloop”.
Ons bring weekliks ‘n koerant uit.



