‘n Nuwe profielfoto op ‘n huiswerker se gesteelde selfoon kan ‘n leidraad wees om die dief op te spoor.
‘n Inwoner het laasjaar vir haar bediende en dié se kinders fone gekoop en What’s Up opgelaai. So het sy met haar werker gekommunikeer.
Op 8 September is die vrou in Tembisa beroof toe sy op pad kerk toe was en haar selfoon is onder meer gevat.
Op 13 September het die vrou gesien haar bediende se profielfoto is verander.
“Ons weet nie of dit die skelm is wat dit gesteel het nie, of die een wat die gesteelde foon gekoop het nie.
“Ek gee nie om watter een dit is nie, ek wil net haar foon terugkry. Sy werk al 16 jaar vir ons en trek ook swaar soos die meeste van ons. Ek voel so, omdat daar in die laaste drie jaar al ses keer by ons ingebreek is. Ons is nou al redelik gatvol vir die totale wetteloosheid,” het die vrou gesê.
