Bejaarde soek wol om vir kinders te brei
Röscher is 'n weduwee en pensioenaris wat by Mybrugh en haar gesin in Rhodesfield woon
‘n PENSIOENARIS en haar dogter wil graag hul talent gebruik om kinders gedurende volgende jaar se winter warm te hou, maar het die hulp van die gemeenskap nodig.
Mariette Myburgh en haar ma, Katrien Röscher (64), is besig om komberse te hekel, maar het dringend wol nodig om hierdie passie in hul projek, “Warmer Winter Kindertjies”, uit te leef.
Hulle is ook op soek na liefdadigheidsorganisasies vir wie hulle die klaargemaakte komberse kan skenk.
Hoewel Röscher meeste van die hekelwerk doen, het hulle tussen die twee reeds 10 komberse gehekel en is van plan om 100 plus komberse voor die winter klaar te hê. As Röscher heeldag sit en hekel, kan sy tot twee per dag klaarmaak.
Hulle gebruik tans al hul oorskietwol, maar het baie meer nodig om hul droom van oor die 100 komberse voor die einde van die winter te verwesenlik. Enige dikte wol is reg, want die wol maak die komberse spesiaal. Hulle hekel dit in blokke of van die middel na buite.
Röscher is ‘n weduwee en pensioenaris wat by Mybrugh en haar gesin in Rhodesfield woon. Hul inkomste is nie so hoog dat hulle al die wol self kan aanskaf nie.
Röscher vertel sy voel deur om komberse te hekel kan sy God dien deur aan minderbevoorregtes in die gemeenskap te gee.
Enigeen wat wol wil skenk, kan Myburgh by 082-380-5593 of 076-732-8975 skakel.
