CrimeNews

Groep word by huis in Glen Marais oorval

Hulle het by die sekuriteitsmaatskappy gehoor dat dit die derde of vierde voorval was waar 'n soortgelyke modus operandi gebruik is om mense te beroof

DRIE gewapende rowers het die hasepad gekies toe ‘n alarm hulle die skrik op die lyf gejaag het toe hulle ‘n groep mense in ‘n Glen Marais huis wou oorval.

Die voorval het laasweek Dinsdag omstreeks 6.30nm plaasgevind toe ‘n vrou wat haar huis wil verkoop, dit aan voornemende kopers gewys het.

Die huiseienaar, wat anoniem wil bly, haar vriend Renier de Beer, ‘n huisagent en nog ‘n persoon was agter in die erf toe hul buurvrou, Veronica, met ‘n vuurwapen by die voordeur ingedwing is.

Veronica het gesê twee rowers het verby haar by die huis ingehardloop. Toe sy weer sien, staan daar ‘n derde rower voor haar en dwing haar die huis in.

Die huiseienaar het deur ‘n venster gesien dat Veronica met ‘n vuurwapen teen haar kop in die eetkamer aangehou word. Sy het op hulle geskree.

De Beer het die alarmknoppie van die alarm wat hy by hom gehad het, gedruk en die alarm het afgegaan.

De Beer het daarna die paniekknoppie gedruk om die sekuriteitsmaatskappy in kennis te stel dat iets verkeerd is, en ook die alarm weer laat afgaan.

Die huiseienaar het gesê sy het toe die ander twee van die slaapkamer se kant af sien hardloop en al drie het laat spaander.

Hulle is verlig dat hulle die koper nie eerste die slaapkamer gewys het nie, maar die agterplaas, anders kon hulle dalk in die huis betrap word en dinge kon baie sleg geëindig het.

Die sekuriteitsmaatskappy het onmiddellik gereageer en die polisie het sowat 5 minute later opgedaag.

De Beer en sy vriendin het gesê dat hulle by die sekuriteitsmaatskappy gehoor het dat dit die derde of vierde voorval is waar ‘n soortgelyke modus operandi gebruik is om mense te beroof.

Die huiseienaar, De Beer en Veronica wil die polisie vir hul vinnige en goeie diens bedank. Veronica, wat nie haar van genoem wil hê nie, het gesê dat hulle dadelik vir haar gereël het om berading te ontvang.

Die rowers het in twee voertuie, waarvan een ‘n wit Nissan bakkie was, gevlug.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button