DIE eienaars van ‘n stofferingsonderneming is vir twee ure by ‘n huis “aangehou” nadat hulle na bewering deur ‘n ongelukkige klant in ‘n lokval gelei is.
Die man wat na bewering die lokval gereël het, Stanley Khoza, is later in hegtenis geneem en op borgtog van R500 laat gaan.
Volgens kapt Lesibana Molekomme, woordvoerder van Norkem Park SAPD, word ‘n saak van intimidasie ondersoek.
Susan en George Smit is laas Donderdagmiddag na ‘n huis in Birch Acres om ‘n voornemende klant ‘n kwotasie vir die oortrek en herstelwerk van meubels te gee. Terwyl hulle daar was, het Khoza, met wie hulle ‘n geskil gehad het en tans in ‘n siviele hofstryd gewikkel is, daar opgedaag.
Khoza het na bewering hul bakkie, wat in die erf was, vasparkeer. Toe die egpaar wou ry, het Khoza glo geweier om sy motor te skuif. Hulle glo hulle is onder valse voorwendsels na die huis gelok.
Susan het gesê dat hy en drie ander mans (die nuwe kliënte) almal geweier het dat die egpaar die erf verlaat. Sy het gesê die mans was aggressief en dat hulle bekommerd was oor hul veiligheid.
“Hulle het voor die hek gestaan en wou ons nie laat gaan nie” het Susan gesê.
Die egpaar kon darem hul seun, George, bel, wat Norkempark SAPD ontbied het.
George is toe na die huis waar sy ouers aangehou is en die polisie het ook opgedaag. Die egpaar is uiteindelik toegelaat om die erf te verlaat, maar Khoza wou glo steeds nie sy motor skuif sodat hulle hul bakkie kon neem nie.
Norkempark SAPD wou in daardie stadium nie ‘n saak teen Khoza oopmaak nie. Die egpaar is saam met hul seun na Kempton Park SAPD en na ‘n gesukkel is ‘n kaptein saam met hulle na die huis in Birch Acres.
Toe hulle daar kom, was hul bakkie se twee voorste wiele afgehaal en die bakkie het op bakstene gestaan.
Susan het gesê dat die “kwotasie” waarop hulle uitgeroep is, beslis ‘n klug was en dat die beskuldigde dit net gebruik het om hulle daar te kry.
Sy het gesê dat sy die volgende dag nog steeds benoud gevoel het.” Dit voel asof my binnegoed binne my druk.”
Molekomme het gesê dat Khoza Vrydag in Kemptonpark Landdroshof verskyn het. Die egpaar se bakkie is deur die polisie na Benoni geneem.
Susan het gesê dat Khoza Saterdag by haar huis opgedaag het en foto’s van haar bakkie geneem het.
