TWAALF klasse het deurgeloop toe daar Dinsdagoggend by Laerskool Kruinsig ingebreek is.
Die slotte is oopgebreek en CD spelers en radios is gebuit.
Die skoolhoof, Johan Kruger, vermoed die diewe het heel moontlik oor die muur aan Maranatha-kerk se kant geklim. Hy reken hulle het toe by die skag langs die badkamers opgeklim.Kruger het ook gesê dat een CD speler wat in ‘n ander klas gevind is, wat daarop kan dui dat die diewe op heterdaad betrap is.Kruger het gesê dat laaie en store in die betrokke klasse deurmekaar gekrap en uitgegooi is.
Kapt Jethro Mtshali, woordvoerder vir Kemptonpark SAPD, het bevestig dat ‘n 23-jarige man in verband met die voorval in hegtenis geneem is. Hy word aangekla van inbraak.
Die inbraak is vroegoggend ontdek toe een van die skool se werkers iets verdag gehoor het. Hy het Alpha Sekuriteit ontbied, wat die een verdagte op die terrein in hegtenis geneem het
Kruger het gesê dat daar waarskynlik twee inbrekers betrokke was.
Die klasse waarby daar nie ingebreek is nie, het normaal met lesse voortgegaan, terwyl leerlinge wat in die klasse is waarby daar ingebreek is, op die rugbyveld gewag het terwyl die polisie vingerafdrukke geneem het.
Die skool het kort voor 9vm ‘n boodskap aan ouers oor die voorval uitgestuur. Daarin is gesê dat geen skietery plaasgevind het nie en dat onderrig en aktiwiteite voortgaan.
In Januarie is daar by die skool se kantore ingebreek en verskeie rekenaars is gebuit.
