CrimeNews

Pa in Estherpark doodgeskiet

Hy was fisies groot, maar met 'n klein hart, hy het op niemand neergekyk nie en almal was in sy oë dieselfde

ROELOF Heyneke (39) is Donderdagaand laasweek in ‘n huis in Estherpark waar hy blyplek gehuur het, vermoor.

Volgens Sebenza SAPD woordvoerder, konst Sharon Mahamba, is Heyneke ongeveer 7.30nm in die bolyf geskiet en is deur paramedici op die toneel dood verklaar.

Sy het gesê hulle vermoed dat die deur oop was en volgens ooggetuies het twee mans met vuurwapens die huis binnegekom.

Mahamba het genoem dat Heyneke ‘n sekuriteitswag was wat trokke begelei het  en het dus ‘n vuurwapen aan hom gehad het.

Die rowers is volgens Mahamba weg met ‘n selfoon, ipad, en Heyneke se vuurwapen. Hulle word steeds deur die polisie gesoek.

Sy kon nie bevestig presies wie saam met hom in die huis was nie.

Sy vriend, Stefan Beetge, wat saam met hom op laer- en hoërskool was, het gesê dat hy geskok is oor sy vriend se dood. “Hy was ‘n baie goeie rugbyspeler en ‘n groot man,” het Beetge gesê.

Heyneke se suster, Frances Steenkamp, het gesê dat haar broer ‘n groot man was, fisies, én in alles wat hy gedoen het.

“Hy was ‘n baie goeie krieket speler, heelagter, en atleet. Van sy laerskool hardlooop rekords het tot nou die dag nog gestaan.”

“Hy was fisies groot, maar met ‘n klein hart, hy het op niemand neergekyk nie, almal was in sy oë dieselfde,” het Steenkamp gesê.

Heyneke laat sy dogter Dominique (11), twee susters, Frances en Nanette, en sy pa Koos en ma Annemarie Heyneke agter.

Heyneke se begrafnis is Vrydag om 12nm vanuit die NG Gemeente Kempton Kruin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button