Nuwe, omvattende LeesApp vir Afrikaans
Die omvattende LeesApp help kinders om te leer lees en skryf en is ’n eerste vir Afrikaans

Terwyl talle studies op die swak geletterdheidsvlakke van Suid-Afrikaanse skoliere wys, doen Solidariteit Helpende Hand ’n reusestap om tradisionele geletterdheid en sogenaamde “nuwe” geletterdheid onder Afrikaanse kinders te help vestig.
Die omvattende LeesApp help kinders om te leer lees en skryf en is ’n eerste vir dié taal, wat vanjaar 90 jaar oud is.
Volgens Annette Taljaard, projekbestuurder vir Solidariteit Helpende Hand se Skole-ondersteuningsentrum, is die Helpende Hand LeesApp ’n poging om lees ’n positiewe én moderne ervaring vir jong kinders te maak. LeesApp bestaan uit drie afsonderlike apps, is spesifiek vir graad eens ontwikkel en bied die voorlesing van ’n alfabetboek, speletjies vir die skryf van letters en selfs ’n platform vir opwindende versterkte realiteit (in Engels bekend as “augmented reality”).
Volgens ’n Helpende Hand-verslag oor geletterdheid en die belangrikheid van lees wat ook bekendgestel is, is die huidige vlakke van geletterdheid onder Suid-Afrikaanse leerders kommerwekkend.
“Die internasionale PIRLS-studie oor leesgeletterdheid, wat in 2006 gedoen is, toon onder meer dat ongeveer 80% van Suid-Afrikaanse leerders teen graad 5 nog nie die basiese leesvaardighede bemeester het nie. Boonop het die Nasionale Normtoetsprojek in 2009 bevind dat 53% van nuwe universiteitstudente nie genoegsame geletterdheidsvlakke het nie,” verduidelik Taljaard.
Taljaard beklemtoon dat dit weens die benarde geletterdheidsituasie in die land noodsaaklik is om geletterdheid op innoverende maniere te bevorder. “Lees is van kritieke belang vir leer en kinders wat sukkel om te lees, sukkel noodwendig ook in alle vakgebiede. Boonop is ’n duidelike verband tussen leesgeletterdheid, leergeleenthede, persoonlike welstand en geluk gevind.”
LeesApp is ’n kreatiewe poging om geletterdheid te help bevorder. “Deur die gebruik van hierdie apps moedig ons nie net ’n positiewe leeservaring by kinders aan nie, maar help ook om kinders blootstelling te gee aan die sogenaamde ‘nuwe’ geletterdheid waarin tegnologie ’n kritieke rol speel. Vergelykende studies het aangetoon dat kinders wat met behulp van rekenaartegnologie leer, beter presteer as diegene wat daarsonder leer. Die benadering wat met LeesApp gevolg word, behoort derhalwe uitgebrei te word na ander grade en temas,” sê Taljaard.
Die apps (Dieretuinpret, Leespret en Skryfpret) is gratis aflaaibaar vir gebruik op alle Android- en Apple-toestelle. Dit word gebruik saam met ’n alfabetboekie, ’n Dag by die dieretuin, geskryf deur die bekende kinderboekskrywer, Jaco Jacobs.
Vir meer inligting oor die Helpende Hand LeesApp, of om die apps gratis af te laai, besoek www.leesapp.co.za.
