Local newsNews

Krygers se 400km staptog met kruis gaan deur Kempton

Die stappers is nie atlete nie, maar gewone mense wat gaan stap

’n Groep van Kruis Krygers Gauteng beplan om sowat 400km met ’n kruis van Benoni tot in Limpopo te stap.

Die beplande sewedag-roete begin om 4 Maart in Heidelberg, deur Nigel en Brakpan tot in Benoni.

Op 5 Maart sal die stappers deur Kemptonpark beweeg.

Volgens Gert van Rensburg van Kruis Krygers behoort die groep om 8.15vm by die Dann- en Van Riebeeckweg-aansluiting te wees, waarvandaan hulle Dannweg sal volg. Vandaar sal hulle na Vleistraat beweeg en regs draai in Pretoriaweg in die rigting van Olifantsfontein.

Inwoners is welkom om die stappers op hul roete te ontmoet.

Ander dorpe wat hulle op hul roete sal aandoen is Irene, Centurion, Pretoria, Pienaarsrivier, Warmbad, Nylstroom, Naboomspruit en Potgietersrus.

Op die laaste dag, 10 Maart, word die laaste skof aangepak vanaf Potgietersrus, wat by die Mighty Men’s Conference (MMC) in Limpopo net voor Pietersburg sal eindig. MMC Limpopo begin op 11 Maart en eindig op 13 Maart.

Van Rensburg het gesê hulle wil graag die tog aanpak om mense se gebedsversoeke te ontvang, mense te bedien op die roete en waar moontlik, behoeftige mense te help met klein geskenke.

Inwoners kan op die dag wat hulle deur Kemptonpark beweeg hul gebedsversoeke in die kruis plaas. Dié gebedsversoeke sal dan voor gebid word gedurende die MMC.

Volgens Van Rensburg is dit die eerste staptog van sy soort in Gauteng. Die eerste was in 2015 in die Oos-Kaap vanaf Oos-Londen tot by die MMC in Middelburg.

Die stappers is nie atlete nie, maar gewone mense wat gaan stap. Elke stapper kry 2km om af te lê en dan vat ’n ander stapper oor. Afhangende van die hoeveelheid stappers vir die dag, sal dit op ’n rotasiebasis geskied.

Inwoners is welkom om by ’n gedeelte van die roete in te skakel. Vir meer besonderhede, skakel Van Rensburg by 082-974-0886.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button