Bid saam vir meisie (6) wat glo Jesus gaan haar gesond maak
'Chadé is 'n baie siek kind en ons lewe dag vir dag'
‘n Spesiale Faceboek-blad is begin waar mense kan bid vir die herstel van ‘n sesjarige dogtertjie van Birchleigh.
Chadé van Niekerk, wat in Mei laasjaar met Hollow Visceral Myopathy gediagnoseer is, weeg tans net 11.24kg waar sy in Baragwanath-hospitaal behandel word.
As gevolg van die siekte sit haar spiere om in weefsel en dit het reeds haar dikderm aangetas. ‘n Derde van haar dikderm is al verwyder.
In November is haar blindederm aan haar naeltjie vasgemaak en sy kry buisvoeding deur ‘n buis in haar maag om haar aan die lewe te hou.
Daar is egter ‘n obstruksie in die dikderm, maar dokters kan nie opereer voordat hulle nie weet waar dit is nie.
Chadé is op 17 Februarie in die hospitaal opgeneem omdat haar maag nie kon ontslae raak van alles binne
nie en die stoelgang deur die pypies gekom het. Sy is die volgende dag onder narkose skoongemaak sodat sy weer buisvoeding kan ontvang.
Hoewel sy Sondag ontslaan is, is sy nou terug in die hospitaal met verdere komplikasies. ‘n Kontras-enema wat Dinsdag gedoen is om te probeer vasstel waar die obstruksie is, het nie geslaag nie.
Sy is tans op ‘n drup totdat ‘n tweede kontras-enema gedoen kan word.
Met alles wat al met Chadé gebeur het en dokters wat vir haar gesê het sy is besig om dood te gaan, loop sy steeds rond met ‘n glimlag op haar gesiggie. Sy glo steeds in God wat haar gaan genees. Sy het vanjaar met graad 1 begin.
Charlotte Diedericks, haar ma, is ‘n enkelouer en probeer haar bes om alles vir haar dogter te doen. Hulle bly tans by Chadé se ouma in Birchleigh.
Charlotte het tot nou alleen gestaan en net haar kerk, vriende en familie vir hulp en gebede genader.
“Chadé se pappa is baie lief vir haar, maar finansies is ook maar ‘n probleem. Ek sit dag in en dag uit by die hospitaal terwyl Charlotte moet werk. Sy kan nie bedank nie, want dit is haar enigste inkomste en die werk wil haar nie altyd afgee nie,” het Chadé se ouma, Fransie Diedericks, gesê.
“Chadé is ‘n baie siek kind en ons lewe dag vir dag, want al wat die dokters in hierdie stadium kan doen, is om haar gemaklik te hou,” het sy gesê.
“Ons hou vas aan die genade van God en glo dat Hy ons meisiekind gesond sal maak, dis al wat ons kan doen.”
Die naam van haar Faceboek-blad is Gebed vir Chade. Die gesin en vriende vra dat mense saam met hulle sal bid.

