Verjaardag-basaar by NG Gemeente Kempton-Noord
Die jaar word afgeluit met 'n gemeente-ete en jaarlikse Kerssangdiens

DIE NG Gemeente Kemptonpark-Noord hou Saterdag sy jaarlikse kerkbasaar by Highveldweg 99.
Vanjaar is dit egter ‘n besonderse geleentheid, want dit vorm deel van die gemeente se 60-jarige feesvierings wat teen die einde van die jaar ‘n hoogtepunt sal bereik.
Die hele jaar word rondom die feesvierings ingerig. Aktiwiteite waaraan die publiek ook kan deelneem en geniet, word beplan. Daar word onder meer ‘n “koslegging” beplan waar nie-bederfbare kruideniers op ‘n groot 60 uitgepak gaan word op die volle oppervlak van die saalvloer. Dit sal die gemeente se uitreikaksie in die gemeenskap buite die kerk ondersteun.
Koor- en orreluitvoerings is ook in die pyplyn en datums sal binnekort bekend wees. Die lente gaan ook verwelkom word en verskillende ander geleenthede rondom die kerkkalender is ook op die kaarte.
Die jaar word afgeluit met ‘n gemeente-ete met die klimaks die jaarlikse Kerssangdiens op 4 Desember.
Die gemeente is amptelik op 8 Desember 1956 gestig en die hele gemeente wil deur die feesvierings gedurende die jaar hul dankbaarheid betuig vir die wonderlike genade wat ervaar is oor die ses dekades.
Om al hierdie dinge af te skop, word die basaar Saterdag gehou. Die dag begin om 8.30vm wanneer die gemeente se gedenkmuur deur ds Bert van Zyl ingewy word. Hierna is dit basaar in die volle sin.
Heerlike poeding, tuisgebak, teetuin, boereworsrolle, hamburgers, jaffels, kerrie-en-rys en pannekoek sal te koop wees. Vir die jonger geslag is daar ‘n jeugtafel en springkasteel.
Die immergewilde kettieskiet is weer daar vir die seuns, hul pa’s en seker ook ‘n paar meisies wat die boeties wil wys wie baas is.
Met die huidige droogte en hemelhoë vleispryse kan jy gerus kom inloer vir ‘n lekker lamsnit of tuisgemaakte boerewors wat jou nie ‘n fortuin uit die sak gaan jaag nie.
Jy kan selfs ‘n braaipakkie op die rooster gooi of ‘n stukkie wors deur die vuur trek.
