Local newsNews

Wyle Oom Dries: ‘n leier in sy gemeenskap

Hy het naby Swartruggens geboer en was ’n bekende Simmentaler-stoetteler

DRIES Niemandt (86), ’n voormalige burgemeester van Kemptonpark, is die naweek na ’n lang siekbed oorlede.

Hy was besturende direkteur van Rentmeester Versekeraars en het op tientalle direksies gedien. Niemandt was voorsitter van die Gemeenskaplike Munisipale Pensioenfonds en trustee van die NG Kerk se Predikante Pensioenfonds.

Also read:

• ‘Rus in vrede, pa’

• Another former mayor of the city has died

Hy was ook ’n voormalige voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut (1987/88) en president van die Verenigde Munisipale Bestuur van Suid-Afrika (1987/88). Niemandt was later voorsitter van die Raad op Plaaslike Bestuursaangeleenthede (1989-2002) en was dekades lank ’n raadslid van die Stadsraad van Kemptonpark, was burgemeester en voorsitter van die bestuurskomitee en het in 1991 ereburgerskap van die stad ontvang.

Hy was intensief betrokke by sport en die Dries Niemandt-sportterrein is na hom vernoem uit erkenning vir sy jarelange diens aan die sportgemeenskap in die stad. Hy was ook lewenslange vise-president van die Goue Leeus Rugbyunie en ’n Leeu-ondersteuner in murg en been.

Hy was ook ’n raadslid van die oud Randse Afrikaanse Universiteit, buitemuurse student aan die Universiteit van Pretoria (B.Com en MBA) en voorsitter van die Buitemuurse Studenteraad.

Hy het naby Swartruggens geboer en was ’n bekende Simmentaler-stoetteler.

Hy word oorleef deur twee kinders, Nelus Niemandt en Nita Nel, ses kleinkinders en een agterkleinkind.

Na die afsterwe van sy eggenote, Thea, was hy die laaste twee jaar met Hannie getroud.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button