Local newsNews

AfriForum maak sy merk in die stad

Die knaende waterkwessies gaan ook ondersoek word en voorstelle sal aan die raad gegee word

DIE burgerregte-organisasie AfriForum se Kemptonpark-tak was die afgelope maand taamlik bedrywig in die stad.

Op 18 Maart het AfriForum se Kemptonpark-buurtwag ’n suksesvolle dorpspatrollie, in samewerking met die polisie, ER24, sekuriteitsfirmas, GPF’s en ’n aantal buurtwagte, onderneem. Die doel van dié patrollie was om sigbaarheid van die veiligheids- en sekuriteitstrukture te vestig.

Die diens van die Kempton Park-buurtwag is so doeltreffend dat die polisie van Norkempark-sektor die buurtwag genader het om te help met ‘n arrestasie wat hulle weens mannekragtekort nie self kon doen nie.

Die jeug het op 19 Maart met hul eerste selfdoenaksie afgeskop, deur die ingang na die vullisoorlaaistasie in Mooirivierstraat, in Norkempark, skoon te maak. Dié groep beplan talle selfdoenaksies en gaan ook projekte bewerkstellig om meer jeugaktiwiteite in die stad van stapel te stuur, soos byvoorbeeld jeugsokkies, flieks onder die sterre en ander langvergete jeugaktiwiteite.

Die plaaslike regeringsportefeulje, onder leiding van Hendrik de Coning, is tans besig met talle projekte wat die swak instandhouding van die stad se infrastruktuur aanspreek.

’n Sinkgat op die hoek van Bamboo- en Palmietstraat, wat deur die publiek aangemeld is, maar nie herstel is nie, is in Maart deur die portefeulje herstel. Slaggate is ’n probleem regdeur die stad wat dringend aangespreek moet word.

Die knaende waterkwessies gaan ook ondersoek word en voorstelle sal aan die raad gegee word om aandag aan die probleem te skenk.

Op 19 Maart het die tak 14 witstinkhoutbome in ’n park, wat weens ’n gebrek aan fasiliteite nie benut word nie, geplant. Die tak gaan ook aan ander parke aandag gee om te verseker dat dit toeganklik en bruikbaar is vir die publiek.

Vir meer inligting, kontak die takbestuur by afriforum.kemp@gmail.com, of besoek hul Facebook-blad, “Afriforum Kempton Park”.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button