Plaaslike bakster is finalis in Lancewood Cake-Off-kompetisie
Die wenner word Saterdag aangekondig
VIR 23-jarige Kemptonparker en bobaas bakster Chené Stoffberg is dit geen verrassing nie dat sy een van ses finaliste is in die Lancewood Cake-Off-kompetisie met haar smullekker Oreo mousse sjokolade-kaaskoek.
Chené vlieg Vrydag Kaap toe om haar wenresep vir beoordelaars Neill Anthony, Tina Bester en Zola Nene te maak. Die wenner van die kompetisie sal Saterdag aangekondig word.
“Ek het die kompetisie op Facebook gesien nadat een van my koshuisvriendinne vir my daarvan vertel het en gesê het ek moét inskryf. Ek het daardie middag met die paar goedjies wat ek in die koshuis gehad het my eerste kaaskoek vir die kompetisie gemaak,” vertel Chené.
Die wenner van vanjaar se kompetisie ontvang ‘n vyf-dag vakansie vir twee ter waarde van R150 000 na New York. Elke finalis het ook ‘n KitchenAid elektriese menger ter waarde van R9 000 gewen.
Chené is tans is ‘n vyfdejaar veeartsenykundestudent aan die Universiteit van Pretoria en is mal oor bak in haar vrye tyd.
Lees ook:
• Kruinie cook claims third place in regionals
• World renowned chef gives back through training
Die kompetisie het vereis dat elke deelnemer sy eie kaaskoekresep skep waarin enige Lancewood-produk gebruik moet word. Die resepte en foto’s is daarna op die webtuiste gelaai sodat die publiek daarna kon kyk en stem.
“Die beoordelaars het ook een-vir-een na elke resep gekyk om seker te maak dat dit jou eie is en dat jy jou plek in die top ses verdien,” sê Chené. ”Ek het letterlik almal wat ek ken gevra om te stem en ek is so dankbaar vir die ondersteuning wat ek van almal gekry het.
”Meeste van die mense wat saam met my swot ken gelukkig my gebak, so dit was baie maklik om hulle om te koop om vir my stemme te kry.”
Chené se wenresep, wat een van haar meer kreatiewe ontdekkings was, het die kompetisie oorrompel met 684 stemme en het die eerste plek in die top ses resepte behaal. Haar tweede resep het ‘n sesde plek gekry met 446 stemme.
“Ek moet baie dankie sê aan my ma. Sy het seker die meeste van my stemme bymekaar gemaak omdat sy so baie mense ken, en ook al my vriende, koshuismaats en familie,” sê sy.
”My ma het selfs as ‘n grap vir Prins Harry ‘n boodskap gestuur om te sê sy het ‘n dogter wat kaaskoek bak en hy moet stem. Ek het so lekker gelag toe hy wraggies daarop geantwoord het.”
Chené vertel ook dat haar liefde vir bak van haar ouma af kom en dat haar ma, Magda, ook ‘n meester in die kombuis is.
“Ek bly in die koshuis, so ek bak gewoonlik as ek naweke huis toe gaan. Dan kan ek my ma se kombuisware gebruik en sy koop gewoonlik my bestanddele – wat ‘n student baie help.”
“Ek is mal om resepte op die internet te lees en om nuwe goed te probeer. Ek sorg ook dat elke keer as ek bak, ek iets maak wat ek nog nie voorheen gemaak het nie. So leer ek myself elke keer iets nuuts. As ek iets meer as een keer maak, moet jy weet dit is regtig lekker, soos my kaaskoek.”
Sy is die jongste finalis in die kompetisie en die enigste een sonder enige formele bakopleiding, maar haar hande staan vir niks verkeerd nie. “Die kompetisie het my geleer dat jy nie nodig het om ‘n kwalifikasie of baie ervaring te hê om lekker te kan bak nie,” verduidelik sy.
”Ek weet ek kan lekker bak en ek weet dat alles wat ek maak, met liefde gemaak word. Dit sorg vir baie goeie herinneringe en laatnag-koffiekuiers in die koshuis.
”Na hierdie kompetisie kan ek enige kaaskoek met toe oë maak.”
Haar resep sal ook in die persoonlike familieresepteboek kom as ‘n stukkie erfenis vir geslagte wat volg.
