HOEWEL sy nie gewen het nie, was die ondervinding wat ‘n 23-jarige Kemptonparker en bobaasbakster, Chené Stoffberg, opgedoen het, van onskatbare waarde.
Sy was een van ses finaliste in die Lancewood Cake-Off-kompetisie met haar smullekker Oreo mousse sjokolade-kaaskoek en het Vrydag Kaap toe gevlieg om haar wenresep vir beoordelaars Neill Anthony, Tina Bester en Zola Nene te maak.
“Ek het in my lewe nooit gedink dat ek in staat sou wees om met soveel trots my kaaskoek vir die beoordelaars en soveel ander in die bakindustrie te kon voorsit nie. Ek het nie gewen nie, maar ek het gebak in ’n wêreldklas-kombuis saam met die oulikste klomp baksters by wie ek soveel kon leer. Ek will ook net spesiaal dankie sê aan tannie Tania Krige van Boere Shabi Sjiek vir al tannie se hulp en insette die laaste twee weke en Lancewood vir die ongelooflike bederf,” het Chené gesê nadat die wenner Saterdag aangekondig is.
Chené se kaaskoek was gewild onder die beoordelaars en sy het selfs een van die organiseerders in die yskas betrap, besig om skelm ’n stukkie van haar koek te eet.
“Die kompetisie het my geleer dat jy nie nodig het om ’n kwalifikasie of baie ervaring te hê om lekker te kan bak nie,” verduidelik sy.
”Ek weet ek kan lekker bak en ek weet dat alles wat ek maak, met liefde gemaak word. Dit sorg vir baie goeie herinneringe en laatnag-koffiekuiers in die koshuis.
“Na hierdie kompetisie kan ek enige kaaskoek met toe oë maak.”
Haar resep sal ook in die persoonlike familieresepteboek kom as ’n stukkie erfenis vir geslagte wat volg.
Lees oorspronklike berig hier:

