Local newsNews

Twee van Casa Caritas se staatmakers tree uit

Van der Merwe en Husband het gesamentlik 50 jaar op die Casa Caritas bestuursraad gedien

NATIE van der Merwe en Clive Husband het einde Maart as bestuursraadslede van Casa Caritas uitgetree na jare se toewyding en diens.

Van der Merwe het in 1978 by Casa Caritas betrokke geraak nadat hy sy dogter, Marna, laat inneem het. Sy is in April 2006 dood nadat sy vir 28 jaar ’n inwoner was.

“Ek is as die eerste ouervoorsitter van Casa Caritas verkies by ’n ouervergadering onder leiding van die bestuursraad na die inhuldigingsgeleentheid. Met die hulp van die raad en goeie samewerking van die ouers is ’n hegte band tussen die ouers en die bestuursraad gesmee.

“Omdat daar besluit was dat die ouervoorsitter ook ’n bestuurslid van Casa Caritas moes wees, was ek van daardie tyd af tot nou baie betrokke deur al die goeie en minder goeie tye wat ons ervaar het,” vertel Van der Merwe.

Also read:

• Maggie groet Casa Caritas

• Interwaste provides over R380 000 in support of Casa Caritas

• Casa is niks sonder die gemeenskap

“Op ’n ligter noot en met ’n glimlag, dink ons aan die tye waar Marna die personeel se skandes by die kantoor in haar gebroke kommunikasie uitgelap het. Sy kon vyf verskillende tale verstaan en praat en die personeel was nie bewus daarvan nie. ’n Besondere dank gaan uit aan die personeel wat betrokke was by Marna, vir al julle deernis en versorging.”

Van der Merwe en sy vrou, Elaine, het baie finansiële bystand gelewer asook hulp gebied met al die veranderinge en fondsinsamelings wat Casa Caritas deur die jare beleef het.

Husband en sy vrou, Elmarie, het in die vroeë 1990’s by Casa Caritas aangesluit nadat die elektriese hek per ongeluk teen sy kar toegemaak het nadat hy ’n donasie aan dié tuiste vir verstandelik gestremdes gemaak het.

“Ek het die herstelwerk aan die hek kom doen en Maggie Coetzee, wat toe hier gewerk het, het aangebied om my te gaan wys hoe die sentrum lyk. Dit was dadelik ’n plek na aan my hart en ek het daarna meer donasies begin maak en gehelp met die organisering van fondsinsamelings,” vertel Husband.

Coetzee, wat in 2013 afgetree het, het vir Husband oortuig om op die raad te dien nadat die Engen-handelaars in Kemptonpark R22 000 vir Casa met ’n gholfdag ingesamel het. Husband het die volgende 12 jaar op die raad gedien.

Hy is tans besig om sy Engen-diensstasie in Isando te verkoop en daarna gaan hy en sy vrou permanent in Jeffreysbaai woon.

“Ons wens Casa Caritas God se seën toe vir die toekoms en ons hoop die bestuursraad sal die goeie werk wat hulle doen, volhou. Ons sal julle almal baie mis.”

 

 

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button