JOAN Badenhorst en Susan van Niekerk, van Denique VLU, deel vanjaar die toekenning vir die twee taklede met die meeste eerste plekke verower in die afgelope jaar.
Dié twee, asook die ander pryswenners, is tydens die aandtak se prysuitdeling, onder leiding van Susan van Niekerk, vorige voorsitter van Denique, aangekondig.
Nina Nel, voorsitter van die Goudrifstreek, het die funksie bygewoon.
Van Niekerk het die gebak- en naaldwerkafdelings gewen. Sy het ook ‘n toekenning gekry vir die meeste inskrywings vir kongres en konferensie.
Badenhorst was die wenner in die afdelings vir mikrogolf en lekkers, asook blomme.
Die ander afdelingswenners was Ria Janse van Rensburg (gebottel), Marie Pieterse (brei/hekelwerk), Tasha Podmore (handvlyt) en Sandra Mynhardt (fotografie).
Podmore, Pieterse en Mynhardt het ook sertifikate ontvang vir die meeste kongres- en konferensie-inskrywings.
Pieterse het weggeloop met die toekenning vir die hoogste punt in die ope-afdeling, terwyl Podmore die hoogste persentasie vir enige artikel (tak, kongres, konferensie) behaal het.
Nuwe lede wat by die Denique VLU-aandtak wil aansluit kan vir Elize Breytenbach by 083-293-7180, of vir Susan Labuschagne by 083-287-7488 skakel. Die tak vergader een keer ‘n maand, op ‘n Maandagaand, by Herfsland, met interessante sprekers en demonstrasies.


