Werkplek dra by tot Aardedag
Die groente en vrugte wat self geoes word deur die werkers, voorsien die koshuise van voedsel
DIE Oos-Randse Beskermde Werkplek het verlede Vrydag Internasionale Aardedag gevier deur hul tuin op te kikker met ’n paar nuwe bome en saailinge wat deur die gemeenskap geskenk is om by te dra tot die wêreldwye projek om 7.8-biljoen bome teen 2020 te plant.
Hulle het ook hul 27ste bestaansjaar gevier en het op die dag aangekondig dat hul streef na ’n selfonderhoudende en groener toekoms deur inheemse bome asook vrugtebome te plant.
“Ons wil dankie sê aan ons donateurs, Michael Pashut vir die saliehoutboom, Anton Landman en Gary Lourens vir die treurmoerbei, pekanneut en appelboom, Nyse van Tonder en Annetjie MacDonald vir ’n tweede appelboom en Albert Lategan, Rhoda Ferreira en Marie Wessels vir die saailinge,” sê Naas Ferreira, direkteur van die Oos-Randse Beskermde Werkplek.
Die werkplek het ook hul volledige permakultuur-tuin heropen waar hulle in die proses is om wintergroente soos spinasie, kool en verskillende kruie te plant.
“Dankie aan almal wat deel was van die dag, die NGO-span van Henley Besigheidskool wat ons ’n paar nuwe bemarkingstegnieke geleer het, Tobie Cronjé ons beskermheer, dr Hugo van der Linde en sy vrou wat al 21 jaar betrokke is by ons en Annetjie MacDonald en haar suster Nyse wat altyd bereid is om te help waar hulle kan. Die werkers het dit ook geniet en lekker saam partytjie gehou.”
Die groente en vrugte wat self geoes word deur die werkers, voorsien die koshuise van voedsel en van dit word aan die gemeenskap verkoop vir ekstra geld.
