Egpaar vier hul 68ste herdenking
Hulle het drie kinders, ses kleinkinders en vier agterkleinkinders
GIDEON (91) en Bettie (89) van der Vyfer het hul 68ste huweliksherdenking op 24 Mei gevier.
Glen Acres Spar het gesorg dat die egpaar behoorlik bederf word met ’n komplimentêre ontbyt en ’n koek met ’n foto van die egpaar op.
“Ons is baie groot ondersteuners van pensionarisse in ons gemeenskap en bederf graag waar ons kan. Namens die hele Spar-span, asook die restaurant en Riaan van Wyk (bestuurder van Buon Appetito), wat alles gereël het, wil ons graag die Van der Vyfers gelukwens met hierdie groot mylpaal,” het Vincent van der Berg, takbestuurder van Glen Acres Spar, gesê.
Die egpaar is in 1948 op Alicedale in die Oos-Kaap getroud, waar hulle ook ontmoet en grootgeword het, voordat hulle in 1967 na Kemptonpark verhuis het.
Gideon het na skool verskeie werke aangepak en vir die Spoorweë gewerk waar hy later as ’n instrukteur vir stasiemeesters in die treinbedryf by Esselenpark diens gedoen het. Bettie het as winkelassistent by ’n algemene winkelhandelaar op die platteland gewerk en later by Reitmans.

In 1969 het die egpaar ’n kleuterskool, Louter Kabouter, in Partridgelaan met sowat 50 leerders begin. Met hul aftrede is die kleuterskool verkoop en in 1985 aan dr Ray Heinz. Met hul aftrede het die egpaar besluit om die land vir vyf jaar met hul woonwa vol te toer.
Hulle woon tans in ’n kompleks in Glen Marais waar Gideon die selfaangestelde opsigter is en algemene instandhouding monitor. Bettie is ’n bobaas-breier en hou steeds daarvan om met kinders te werk en uit te help waar sy kan.
“Vir my is een van die mooiste eienskappe van my vrou dat sy so ’n geduldige en hardwerkende mens is. Sy het altyd ’n oop deur en hart vir enigiemand wat hulp nodig het en ek kan net die goeie herinneringe saam haar deur die jare koester,” vertel Gideon.
“My man is my steunpilaar en was nog altyd in alles wat ek en hy aangepak het,” het Bettie verduidelik.
Gideon het bygevoeg dat die res van die jaar nie vir hul uitbeplan is nie en dat hulle dit net ten volle gaan geniet.
Die egpaar het drie kinders, ses kleinkinders en vier agterkleinkinders.
