Riebies besoek sopkombuis in Bonaeropark
Die leerders was verbaas om te sien hoe baie mense in die gemeenskap honger ly
DIE graad 7V-klas van Laerskool Van Riebeeckpark het oor ’n tydperk van drie weke die Gentle Whisper sopkombuis in Bonaeropark besoek.
Die Riebies het broodjies gesmeer, sop gemaak en dit aan die gemeenskap bedien. Elke week het die leerlinge met skriflesing en gebed geopen en daarna het hulle saam met die minderbevoorregte mense lofliedere gesing.
Volgens tannie Lorraine gee hulle by tye vir meer as 50 mense ’n dag kos. “Ons het in Mei 2014 vir 383 mense kos gegee en in 2015 vir 1 355. Ons getalle groei aansienlik elke jaar,” het sy verduidelik.
Die leerders was verbaas om te sien dat baie mense in die gemeenskap honger ly.
“Dankie aan al die mense by Gentle Whisper wat hul harte vir die gemeenskap oopmaak. ’n Besonderse dankie aan tannie Tersia, Rize en juffrou Hanlie wat die Riebies vergesel het,” het die leerders gesê.

