Boeremusiekgilde dra by om R30 000 in te samel
Daar was ook ’n pretloop en ’n potjiekoskompetisie
DIE Witwatersrand-tak van die Boeremusiekgilde het op 28 Mei bygedra om R30 000 in te samel vir ses kinders van Brothers for Live (BFL) en Sisters for Live (SFL).
Hulle het musiek en vermaak verskaf aan oud en jonk saam met Brendon Bouwer en die Kwaggas by Bidvest McCarthy Nissan in Germiston se fondsinsameling-pretdag.
Daar was ook ’n pretloop en potjiekoskompetisie vir enigiemand wat wou deelneem.
Die BFL en SFL groep is ’n liefdadigheidsorganisasie wat kyk na kinders wat uit huise van geweld, dwelms en haglike omstandighede kom en wat nou by hul grootouers woon en fondse benodig vir onder meer skoolfooie.
Bidvest McCarthy Nissan het ook R1 000 geskenk vir elke motor wat hulle verkoop het en Johan Nel het ’n stap-initiatief begin waar hy vanaf Johannesburg tot in Amanzimtoti gestap het. Hy het 1 721km gestap en verskeie maatskappye het R5 per kilometer aan die organisasie geskenk.
“Dit was ’n absolute voorreg om deel te kon wees van hierdie uitstekende dag en om te kon help,” het Ilze Steyn van die Boeremusiekgilde gesê.
