Bredell-leerder is gesondste SF pasiënt in die land
Hy is op ses maande gediagnoseer met sistiese fibrose
ALBERTYN Pienaar, ’n graad sewe leerder van Laerskool Bredell, het vanjaar sy sakgeld gebruik om vir 36 van sy klasmaats plakkers te koop om hulle meer bewus te maak van sistiese fibrose (SF).
Hy is op ses maande met dié siekte gediagnoseer en is tans een van die gesondste pasiënte in die land.
SF is ’n genetiese afwyking in die proteïen wat verantwoordelik is vir die werking van die liggaam se natriumchloried-kanale en daar is geen geneesmiddel nie. Wanneer die proteïen glad nie funksioneer nie, verloor die pasiënte natrium en raak hul slym, speeksel en ander liggaamsafskeidings dik, wat dit makliker maak vir infeksies om pos te vat.
Die algemeenste organe wat geaffekteer word is die longe, pankreas, lewer en niere.
“Dit is baie belangrik dat die gemeenskap bewus gemaak word van SF. Soveel mense is baie oningelig en dit is belangrik om die simptome vroegtydig raak te sien en dit te behandel,” het Pienaar se ma, Marietjie, gesê.
Afgesien van die feit dat Pienaar homself elke aand moet nebuliseer, twee asma-pompies moet gebruik en elke oggend en aand vitamienaanvullings moet drink, is hy ’n kranige gholfspeler, lid van die skolierpatrollie, deel van landsdiens en ’n top vyf akademiese presteerder.
“In my oë is hy ’n wonderwerk,” het Marietjie gesê.
