Local newsNews

Afbeen-man pak 7 000km vir prosteses

Hy het die laaste vier jaar 13 prostetiese bene aan verskeie mense wat dit nodig het, geskenk

PAUL Steyn (29), beter bekend as die man wat duisende kilometers regoor ons land loop met sy prostetiese been, het op 15 Junie ’n motiveringspraatjie by Laerskool Impala gelewer.

Hy het sy storie met die leerders gedeel oor hoe hy op 13-jarige ouderdom sy regterbeen in ’n ongeluk verloor het en hoe hy deur sy organisasie, die Paul Steyn-stigting, van plek tot plek stap om mense bewus te maak van hoe belangrik dit is om mobiel te wees.

Sy nuutste projek, Stap vir Prostese, het op 18 Junie in Sandton begin en Paul gaan 7 000km stap om eindelik op 28 Julie in Wolmaransstad te eindig.

Sheri Wahl, ’n Kemptonparker wat deel is van sy bemarkingsveldtog, het gesê: “Ek het Paul op die vliegtuig op pad na die Comrades ontmoet en my lewe het verander. Ek wil graag hê almal moet weet waaroor die organisasie gaan en hoeveel lewens hy al verander het en nog van plan is om te verander.

CHRISTIAAN Fourie,'n  onderwyser by Laerskool Impala, saam met Paul Steyn. Paul het onlangs die skool besoek en ’n motiveringspraatjie gelewer.
CHRISTIAAN Fourie,’n onderwyser by Laerskool Impala, saam met Paul Steyn. Paul het onlangs die skool besoek en ’n motiveringspraatjie gelewer.

“Toe hy in Durban van die vliegtuig afgeklim het, het sy kunsbeen gebreek. Hy was gedwing om krukke te gebruik vir die duur van die Comrades. Ons het baie op en afgeloop en ek het sy rugsak met sy kamera gedra. Ons het so baie geloop dat sy krukke ingegee het en sy arms rou geskaaf was, maar steeds het hy met ’n glimlag op sy gesig die pad aangepak,” het Wahl vertel.

“Dié ervaring saam met hom het my geleer hoe belangrik mobiliteit is en dit is wat hy deur sy organisasie vir ander mense probeer bied.”

Paul het die laaste vier jaar 13 prostetiese bene aan verskeie mense geskenk deur geld met sy staptogte in te samel.

“Ek probeer ’n verskil in mense se lewens maak en hulle ’n normale lewe te gee met iets wat ons almal daagliks as vanselfsprekend aanvaar, om te kan loop. Ek het my lewe omgedraai en ek wil dit vir ander mense ook gee,” sê Paul.

Die hoofdoel van die organisasie is om gemeenskappe bewus te maak van hoeveel prosteses kos. Een been kos tussen R50 000 en R100 000.

“Stel jouself voor jy het net een been, jy is op krukke en jy is besig om ’n koppie koffie te maak. Hoe dra jy daardie koppie koffie tot in die sitkamer sonder om te mors? Dit is ’n simpel voorbeeld om die belangrikheid te beklemtoon van hoeveel dit een persoon se lewe kan vergemaklik om ’n prostese te kan hê,” sê Paul.

Vir meer inligting oor Paul of vir enige donasies, besoek www.paulsteynfoundation.org.za, skakel hom by 079-912-7467 of SMS die woord ‘WALK’ na 38021 om R10 te skenk.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button