Local newsNews

Voortrekkers trap nuwe spore

’n Voortrekkerkind-beeld word op Erfenisdag, 24 September, by die Voortrekkermonument onthul

Die Voortrekkers gaan die volgende twee maande regoor Suid-Afrika en Namibië hul 85ste bestaansjaar vier met die tema, Trap nuwe Spore.

Dr Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, vertel dat jeuglede die geleentheid kry om tydens die feesjaar hul eie geskiedenis te skryf.

“Voortrekkerspore van ouds word nie net bevestig nie, maar nuwe spore word getrap. Daar word nuwe monumente gebou en terselfdertyd word uitgereik na die gemeenskappe om ons. Op dié wyse leer ons jeuglede nie net geskiedenis nie, maar skryf hulle ook geskiedenis.”

Die program het afgeskop met die grootste trek oor die Drakensberge sedert die Groot Trek 179 jaar gelede. Volgens Langner het “Pieter Retief op 5 Oktober 1837 daar afgetrek met vier waens op pad na Koning Dingaan.

Vierhonderd moderne Voortrekkers het Retief se spore bergaf gevolg. Twee monumente is gebou – een aan die bopunt naby die Kaalvoetvrou en een by ATKV Drakensville. ’n Boomlaning word ook in die oord aangeplant. Vier Hippo-rollers is bergaf getrek waarna dit aan die plaaslike gemeenskap oorhandig is.

Verskeie landswye feeste word by verskeie monumente en erfenisterreine gehou. Jak de Priester is by van die feeste te sien waar hy die “Sporelied” sal sing wat hy spesiaal vir vanjaar se feesvieringe geskryf het.

Die Voortrekkers Kook-resepteboek word ook by elke fees bekend gestel. Die resepteboek bevat al die lekkerste resepte van spankampe, veldkampe en gebiedskampe. ’n Dokumentêr, getiteld Voortrekkerspore, wat handel oor vandag se Voortrekkers se doen en late, vertoon Sondae, 18 en 25 September om 2.30nm op kykNET.

Volgens Langner het Die Voortrekkers se ledetal sedert 2014 met 14% gegroei en hoop hulle om tydens die landswye feeste ongeveer ’n 1 000 nuwe Voortrekkers as lede in te lyf. ’n Voortrekkerkind-beeld word op Erfenisdag, 24 September, by die Voortrekkermonument onthul. Dit is ontwerp en gebou deur ’n Namibiese beeldhouer, Duif Keyser.

Langner beskryf Die Voortrekkers as ’n gesellige familiehuis. Die Voortrekkers is ’n behoort plek waar oupa en ouma, pa en ma saam met hulle kinders in ’n gebalanseerde kultuuromgewing saam kuier, saam dien en saam kultuur met avontuur in die natuur geniet. Deur vaardigheidsontwikkeling, waardegedrewe antwoorde en praktiese toepassing vat Die Voortrekkers die toekoms met selfvertroue.

Komende byeenkomste

13 Augustus 2016 Kimberley (Noord-Kaap)

21 Augustus 2016 George (Suid-Kaap)

26 Augustus 2016 Swakopmund (Namibië)

27 Augustus 2016 Taalmonument (Paarl)

3 September 2016 Vrouemonument (Bloemfontein)

3 September 2016 Vegkop (Heilbron)

10 September 2016 Geloftekerk (Pietermaritzburg)

24 September 2016 Voortrekkermonument (Pretoria)

14 Oktober 2016 Port Elizabeth (Oos-Kaap)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button