Vories trap nuwe spore oor die Drakensberge
Een van die vroue wat die rollers oorhandig het, was Marilize Marais, kommandoleier van Kruinsig Voortrekkerkommando
VERSKEIE Voortrekkers van Kemptonpark het die afgelope langnaweek aan die grootste trek oor die Drakensberge sedert die Groot Trek 179 jaar gelede, deelgeneem.
Volgens dr Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, het Pieter Retief op 5 Oktober 1837 daar afgetrek met vier waens op pad na Koning Dingaan. Sy trek het hom op 14 November gevolg nadat hulle die nuus ontvang het dat Dingaan grond belowe het.
Die afgelope langnaweek het 345 moderne Voortrekkers Retief se spore berg-af gevolg. Hulle het van regoor die land gekom om saam te stap. Daar is twee monumente gebou, een aan die bo-punt van die berg naby die Kaalvoetvrou-monument en een by ATKV Drakensville waar daar ook ’n boomlaning van 45 bome aangeplant is.

Volgens Josua du Plessis, die trekorganiseerder, was die tog 13.4km ver, maar wat die murg in die pype van die Voortrekkerjeug getoets het, was die steiltes waarteen hulle die waens moes op- en afsleep.
“Die trek het by Retiefpas, 1762m bo seespieël, begin en het vinnig geval na 1233m bo seespieël voor dit op die savanna aangekom het. Die meerderheid van die remhoogtes was in die eerste 3km van die roete.”
Die Voortrekkers is dankbaar dat hulle vier kakebeenwaens in die hande kon kry om die tog mee te maak. Hierdie waens het van heinde en ver gekom (Frik Swanevelder-wa van Kemptonpark, Tom Beukes-wa van Ficksburg, Pieter Breytenbach-wa van Ottosdal en Dawid Grobbelaar-wa van Tzaneen).
Al die waens is gerestoureer vir hierdie geskiedkundige tog.
Langner het gesê dat een van die waardes wat jeuglede by die Voortrekkers leer is dat ’n diensbare leier nie vir jouself leef nie. Die kinders het saam met die waens ses hippo-rollers (90 liter elk) met hulle watervoorraad berg-af gerol.

Daarna het Voortrekkervroue en dogters die ses hippo-rollers aan die plaaslike Zoeloe-vroue oorhandig. Enersyds as ’n gebaar van vriendskap, maar andersyds met die hoop dat die sterk rollers hulle lewe in landelike omstandighede effens sal vergemaklik.
Die vroue het die groep met hul kerkklere ingewag en ’n pragtige seënlied gesing. Een van die vroue wat die rollers oorhandig het, was Marilize Marais, kommandoleier van Kruinsig Voortrekkerkommando wat kaalvoet oor die Drakensberge geloop het.
Sy het dit gedoen ter viering van Vrouedag in herinnering aan Susanna Smit, die Voortrekkervrou wat aan die Engelse offisier gesê het dat die Voortrekkers eerder kaalvoet terug oor die Drakensberge sal stap as om onder Engelse gesag te staan.
Langner vertel dat jeuglede die geleentheid kry om tydens die feesjaar hul eie geskiedenis te skryf. “Voortrekkerspore van ouds word nie net bevestig nie, maar nuwe spore word getrap. Daar word nuwe monumente gebou en terselfdertyd word uitgereik na die gemeenskappe om ons. Op dié wyse leer ons jeuglede nie net geskiedenis nie, maar skryf hulle ook geskiedenis.”
