Wenners sal by kinderfees aangewys word
Op die dag van die fees sal daar die geleentheid wees om aan drie gelukstrekkkings deel te neem
MES se baba- en kleuterkompetisie, waarvan die prysgeld deur Repcall Services geborg word, het amptelik op 17 Augustus gesluit en die wenners sal by die kinderfees op 27 Augustus aangekondig word.
Die fees vind plaas by Dries Niemandtpark en dit gaan ’n dag wees waar pret gewaarborg word. Vermaak sluit in treinritte, water- en grasballe, perderitte, waterglybaan, go-karts, valskermvuurpyl en baie meer verrassings.
Inwoners word aangemoedig om deel van die jaarlikse fees te word. Dit sal MES help in sy strewe om die hart van die stad te verander en om mense so te bemagtig dat hulle onafhanklike en betekenisvolle lewens kan lei.
Die fees is die tak se grootste fondsinsamelingsprojek vir die jaar en fondse wat ingesamel word, sal tot voordeel wees van bestaande programme sowel as die vestiging van nuwe programme.
As deel van die dag se verrigtinge, is daar verskeie vlooimark- en kosstalletjies. Vir vlooimarkstalletjie besprekings, skakel Gert Lotz by 082-574-7258.
Op die dag van die fees sal daar die geleentheid wees om aan drie gelukstrekkkings, geborg deur die Premier Hotel in Rhodesfield, deel te neem. Dit behels ’n naweekgeskenkbewys vir twee, wat insluit komplimentêre verblyf, aandetes en ontbyt, asook twee Sondagaand-geskenkbewyse, wat insluit komplimentêre verblyf, aandete en ontbyt.
Kaartjies vir die trekking kos R30. Belangstellendes is welkom om reeds voor die kinderfees kaartjies by MES se kantore in Kemptonweg 6 aan te koop.
Donasies is steeds welkom en verskeie geleenthede bestaan om baniere en ander bemarkingsmateriaal by die fees beskikbaar te maak. Vir meer inligting, skakel Aloma Swanepoel by 011-024-4580 of 082-652-3398.




