Een “trooskombers”-blokkie lei tot talle komberse
Ondersteun die Anja Trooskombers-inisiatief deur blokkies te hekel
KATINKA Steyn van Anja Trooskomberse is op 3 Augustus deur haar span met nuwe “branding” vir haar voertuig.
Die “branding” is deur Cartridge Cave in Florida geborg en sal help om almal bewus te maak van hierdie Kemptonparker se inisiatief.
Anja Trooskomberse is ’n Facebook-blad wat in 2014 begin is nadat Steyn se dogter, Anja Jansen van Vuuren (25), skielik dood is.
Anja, haar suster Marike en Katinka was in daardie stadium deel van ’n hekelgroep op Facebook. ’n Dag na Anja se dood het Steyn ’n foto van ‘n pers hekelblokkie met ‘n groot hart daarin, op die groep se webblad geplaas om almal van Anja se dood in kennis te stel.
“Pers was Anja se gunsteling kleur en die rooi hart het die hartoperasie gesimboliseer wat Anja moes ondergaan,” vertel Steyn.
Een van die lede van die Facebook-groep het voorgestel dat elke lid van die groep ’n blokkie hekel met iets pers daarin en na Katinka stuur, sodat sy vir haar ’n “trooskombers” aanmekaar kon werk.
“Die reaksie was oorweldigend. Blokkies van regoor die land en selfs oorsee het ingestroom, elkeen met ’n boodskap van vertroosting.”
Steyn het besluit om die Anja Blokkies Trooskombers Facebook-groep te begin om voort te gaan om blokkies te hekel vir die maak van trooskomberse vir almal wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het.
Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, kontak Katinka by 082-802-4488.
