Kersvader deel 83 geskenke uit
Baie van die dogters en ma’s het ook die pamperhoekie besoek
DANKSY Solidariteit Helpende Hand Kempton Park-tak, in samewerking met AfriForum Kempton Park, het 83 minder bevoorregte kinders elk ‘n Kersgeskenk ontvang laasjaar.
Die geskenke is op 13 Desember tydens ‘n gesellige Kerspartytjie by die Bredell Rainbow Party Venue uitgedeel.
Die kinders was aangery in twee busse en sommige van hul se ouers het die propvol Kersprogram terdeë geniet.
“Die kinders kon kies en keur tussen op die wipmatte spring, in die pophuis speel of hase en hoenders voer,” het Ella Pieterse, voorsitter van die plaaslike Helpende Hand-tak, gesê.
Die skreeusnaakse Clumze Eddie het beslis ook later in die oggend die lagspiere geprikkel met ’n towerkuns vertoning, gesigverf en boonop ballonne ook. Pragtig versierde kolwyntjies en yskoue koeldrank het vir baie glimlagte gesorg.
“Baie van die dogters en ma’s het ook die pamperhoekie besoek waar naeltegkundiges hul naels gedoen het,” het Pieterse vertel.
Smaakvolle boerewors rolle het gesorg vir vol magies voordat Kersvader stilweg sy opwagting gemaak het al die pad van die Noordpool af om die geskenke uit te deel.
“Die dag was ’n reuse sukses wat beslis nie sonder ons borge sou plaasgevind het nie en daarom wil ons die volgende persone en instansies graag bedank: Santa’s Elves, Dawie Kruger, dr Bianca Brits-Du Toit, Bredell Rainbow Party Venue, Beryl Dirker, Rhino Linings, Mazda Southern Africa, AfriForum Kempton Park, AfriForum GRE-span, Clumze Eddie, Cassie du Toit, Marelize Boshoff, Charmaine Venter, Bernadine Wright, Dirkie Venter, Fred Brits, Ruan Brits, Jan Vermaak (AfriForum), Riaan Visser, Rachel van den Berg en Gawie Diedericks (Modderhill Slaghuis).”
