Local newsNews

Bekende ‘karwas-tannie’ is laasweek dood

Sy was 'n mentor, raadgewer en familievrou met 'n hart van goud

VERONICA van der Merwe (77), wat as Kemptonpark se “karwas-tannie” bekendgestaan het, is op 6 Julie dood.

Sy het tot twee jaar gelede nog haar motorwassery, Brooklyn Gardens Karwas, op die hoek van Dann- en Monumentweg, behartig.

Volgens haar kleindogter, Wilanda Stubbs, het haar ouma en Ken die besigheid vir 18 gehad.

Veronica en haar oorlede man het in 1976 van Potchefstroom na Kempton Park verhuis. Hulle het saam die besigheid in 1999 begin. Na Ken se dood in 2005 het Veronica die besigheid oorgeneem.

Sy het tot en met die ouderdom van 75 sewe dae ’n week van 7vm tot 5nm daar gewerk.

“My ouma was bekend onder haar klante as iemand wat altyd vriendelik, geduldig en bereidwillig was om mense te help. Sy het ’n groot kliëntebasis gehad – sommiges het party dae sommer net kom hallo sê,” het Wilanda gesê.

“Sy was ’n mentor, raadgewer en familievrou met ’n hart van goud.”

Veronica laat haar drie kinders, Wanda, André en Linda, asook drie kleinkinders en vier agterkleinkinders, agter.

Die familie wil graag dankie sê aan Hospice wat haar tydens haar laaste dae versorg en na haar omgesien het. Hulle bedank ook al die susters en dokters asook al die vriende en familie vir hul bemoedigende woorde en boodskappe.

Sy is Dinsdag vanuit die AGS-kerk in Fiskaalstraat begrawe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button