KYK: Birchleigh-oupa sit met driedubbele lemoen
Kruger sê selfs sy 80-jarige buurman, al kan hy nie meer so mooi sien nie, stem; dié vrug is spesiaal.
’n Birchleigh-man met groenvingers het sowaar die vrugte van sy harde werk gepluk toe hy Dinsdagmiddag ’n vrug van ’n ander soort aan sy lemoenboom sien hang het.
Dié vrug het nie een nie, nie twee nie, maar drie lemoene in een gelewer.
“Dit is ’n wonderwerk,” meen Gert Kruger (74), wat al vir meer as 40 jaar na sy geliefde lemoenboom omsien. Die boom was reeds daar toe hy vier dekades gelede by Essenwoodlaan ingetrek het.
“In my hele lewe het ek nog nooit so iets gesien nie. Ek het al dubbele piesangs gesien, maar nie drie lemoene nie.” Kruger sê selfs sy 80-jarige buurman, al kan hy nie meer so mooi sien nie, stem; dié vrug is spesiaal.
En wat gaan hy met die vrug maak? “Nee, ek weet nog nie.”
Die ander lemoene, wat die hele 2m hoë boom vol hang, word gereeld aan bure, munispiale werkers en verbygangers gegee.
“Ek kan in my lewe nie als self opeet nie.”
Die vrugteboom is nie al wat in die pa van drie en oupa van vyf se tuin pronk nie. ’n Bruinfelsia pauciflora, oftewel ’n yesterday-today-and-tomorrow se skakerings van pers verwelkom kuiergaste by die wit staalhek. Nog een van Kruger se trotse toevoegings is die pienk roosboom, waaraan die blomme nes Turkse lekkers ruik.

So, is Kruger se drie-dubbele lemoen ’n wonderwerk?
Navorsing in die Henderson’s Dictionary of Scientific Terms dui dat dit miskien vivipariteit kan wees. Dié verskyning kom soms in sitrusvrugte voor wanneer die saad nie uitdroog nie, maar sommer direk op sy ‘moederplant’ ontkiem. Dit kan slegs gebeur wanneer daar genoeg vog is as gevolg van baie reën.
Of dit nou ’n wonderwerk is of nie, Kruger is ’n gelukkige man.
Het jy al so iets in jou tuin teëgekom?

