NG Gemeente Kemptonpark vier 75 jaar
Alle oud-lidmate word na die spesiale dankseggingsdiens uitgenooi.

Die NG Gemeente Kemptonpark op die hoek van Kempton- en Monumentweg vier op 23 Junie sy 75ste bestaanjaar.
’n Spesiale feesete word die Saterdag vir lidmate gehou en die Sondag om 9vm is daar ’n spesiale dankseggings-erediens en nagmaal.
Alle oud-lidmate, wat een of ander tyd tydens hul verblyf in Kempton Park deel van die kerk was, word genooi omdie dankseggingsdiens by te woon.
Die kerk het ook as die Moedergemeente bekendgestaan. Tydens die erediens sal ’n spesiale dankbaarheidsoffer opgeneem word.
Die gemeente het op 23 Junie 1943 met ’n ledetal van 620 van Boksburg, die ou moedergemeente van die Oos-Rand, afgestig.
Die kerksaal-gebou in die middestad het as kerk gedien tot in 1949 toe die sierlike nuwe kerkgebou in Monumentweg verrys het en in gebruik geneem is.
’n Jaar na die stigting van die gemeente is die eerste leraar, ds RM de Villiers, op 3 Junie 1944 in die gemeente ontvang en bevestig.
Deur die jare het die middestad sodanig verander dat meeste van die inwoners anderstalig was. Daar is tans drie swart-kerkverbande wat die geboue huur.
Die pastorie is vyf jaar gelede aan MES beskikbaar gestel en hawelose mense word tans daar gehuisves.
Vir meer besonderhede oor die feesvieringe, skakel ds Nico Bekker by 011 970 1362 of 082 256 1657.
