Local newsNews

Voortrekkervriende van toeka se dae weer bymekaar

Wie sou kon dink dat die besluit van ’n 24-jarige onderwyser ’n lewenslange impak op ’n groep seuns sou hê?

Sowat 62 jaar gelede het onderwyser Charles Wilcocks op 24-jarige ouderdom besluit dat Laerskool ML Fick in Potchefstroom ’n Voortrekkerspan nodig het.

Só het agt avontuurlustige Graad Vier seuns bymekaargekom, min wetende dat hulle lewenslange vriendskappe sou vorm.

Saam met hul geliefde onnie en offisier Charles, het die boesemvriende avonture gehad nes die uit Topsy Smith se Trompie.

Voortrekker-verlede, 1956. Só het die lede van die Knobas in hul stigtingsjaar gelyk. Hulle was toe Graad Vier leerders by Laerskool ML Fick in Potchefstroom. Voor: Marten van Dijken, Willie Brewis, Charles Wilcocks (offisier), Izak van Rooijen en Karel van Niekerk. Agter: Hentie Coetzee, Louwrens Smit, Gideon van Eck en William Delaney. Foto: argiefmateriaal van die destydse Wes-Transvaler.

Die groep het saam tot in hul matriekjaar in 1964 aan fietstoere, kampe, staptoere en bergklimekspedisies deelgeneem. Juis hierom is die span later as Knobas gedoop, na aanleiding van die knopkieries wat tydens dié avonture gebruik is.

Na skool het die groep uiteraard uitmekaar gegaan en woon nou regoor die land. Een, die einste offisier Charles Wilcocks, is nou ’n inwoner van Allen Park-aftreeoord hier in Kempton Park. Hy is reeds 86 jaar oud.

Die hele groep was 37 jaar gelede tydens ’n 25-jaar reünie, laas saam. Dít het egter nou verander.

Ses Knoba-lede (een is reeds oorlede en die agtste kon nie betyds opgespoor word nie) het op 3 Junie saamgekom by die aftreeoord in Cactusweg om hul oud-offisier te verras. Een het vanaf Oos-Londen gereis, een vanaf Roodepoort, een vanaf Potchefstroom, een vanaf Alberton en twee vanaf Pretoria.

Die 1981 reünie. Hier is die boesemvriende 37 jaar gelede by ’n 25-jaar reünie. Hulle poseer nes in hul heel eerste foto wat in 1956 geneem is. Voor: Marten van Dijken, Willie Brewis, Charles Wilcocks (offisier), Izak van Rooijen en Karel van Niekerk. Agter: Hentie Coetzee, Louwrens Smit, Gideon van Eck en William Delaney. Foto: argiefmateriaal uit die destydse Wes-Transvaler.

“Ons wou graag ons waardering teenoor hom uitspreek vir al sy opofferings vir ons tydens ons Voortrekkerjare,” het Knoba-lid Marten van Dijken aan Express gesê. “Daardie ervarings het baie vir ons lewenspaaie beteken.”

Allen Park het ’n saal vir die manne ingerig en daar is behoorlik makietie gehou met heerlike lekkernye.

“Ons het lekker gesels en herinneringe met oom Charles gedeel,” het Van Dijken bygevoeg. “Hy was ’n geliefde offisier wat sy lewe aan ons toegewy het.”

Daarna het Wilcocks, ook ’n talentvolle kunstenaar, afdrukke van sy illustrasies uit die digbundel Kosmos-genade, aan sy gaste gegee.

“As aandenking van ons veelbewoë leeftyd saam.”

En toe is die Voortrekker-maats weer uitmekaar, maar nie voordat hulle, nes in 1956 en 1981, saam vir ’n foto poseer het nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button