Rheinberger-kamer soek oud-lede vir reünie
Alle oud-koorlede van die afgelope 15 jaar word genooi om te kom saamsing en kuier

Die Rheinberger-kamerkoor is in Maart 2003 gestig en na 15 suksesvolle jare gaan die koor nog steeds van krag tot krag.
Die koor, onder leiding van Gert Pottas, bestaan uit 44 koorlede wat weekliks repiteer en het deur die jare groot mylpale bereik. Gedurende Julie het Interkultur, ’n internasionale koororganisasie, die World Choir Games 2018 in Tshwane aangebied.
Interkultur bied sedert 2000 elke tweede jaar ’n koorspele in een van die wêreld se groot stede aan en vir 2018 is Tshwane gekies om die World Choir Games in samewerking met die Universiteit van Pretoria aan te bied.
Tydens hierdie twee weke het 350 kore van 62 lande Suid-Afrika besoek en aan die Spele deelgeneem – ’n totaal van 16 000 koorsangers. Die Rheinberger-kamerkoor het aan die gemengde kore-kategorie deelgeneem en derde gekom met ’n goue sertifikaat.
Die koor vier op 26 Augustus sy 15-jarige bestaan met ’n erediens en konsert by die NG-kerk Edleen, wat op die hoek van Okkerneut- en Amarillostrate geleë is.
Alle oud-koorlede van die afgelope 15 jaar word genooi om te kom saamsing en kuier.
Die dag begin met die erediens om 9vm en daarna kuier almal saam om ’n piekniekmandjie. Van 1.30nm oefen die oud-koorlede saam met die huidige koor aan ’n paar liedere vir die massakoor.
Om 3nm bied die koor ’n konsert aan wat dan met die massakoor van oud-koorlede afgesluit word.
Kaartjies vir die dag is R50 per persoon en is verkrygbaar by Maralie of op die dag by die kerk.
“Ons sal graag soveel as moontlik van al die oud-koorlede en hul families wil verwelkom,” het sy gesê.
Indien iemand meer inligting verlang kan hulle vir Maralie by admin@rheinbergerkoor.co.za kontak.
