Kemptonparkers kan uitsien na nuwe mark in Glen Marais
Op 25 Mei sal die heel eerste vetplant-, familie- en kuns en kultuurmark hier gehou word.
Kemptonparkers klim gereeld naweke in hul voertuie en ry na buurdorpe op soek na ’n kuns en kultuur- of boeremark, selfs ’n plantmark.
En dan koop ons maar. Teen laatmiddag kom ons platsak terug en volgende keer maak ons weer so.
Maar dit is nie meer nodig nie. ’n Groep vroue het die initiatief geneem om vir Kemptonparkers hul eie proe-bietjie-geselsmark te skep.
Die openbare park in Ouhoutlaan in Glen Marais is onlangs deur die metro opgegradeer en bied die ideale plek vir ’n lekker mark. Daar is klimrame en ander apparate vir kinders, asook piekniekbankies waar die publiek kan ontspan.
Op 25 Mei sal die heel eerste vetplant-, familie- en kuns en kultuurmark hier gehou word.
“Aanvanklik was die doel met die mark om fondse in te samel om ’n vyfjarige danseres van Kempton Park te help om by die wêreldkampioenskappe in Engeland te kom, maar ons het gou besef dat daar ’n groot leemte en behoefte aan so ’n mark in Kempton Park is,” het Melanie Kruger, een van die organiseerders, gesê.
“Ons het besluit om vir baie mense wat werkloos is, en ander wat afhanklik is van ektra inkomste, die geleentheid te gee om hulle tuisprodukte te kom verkoop. Ons het tans meer as 90 uitstallers met ’n groot verskeidenheid kwaliteitprodukte, van tuis- en handgemaakte, ingelegde en tuisgebakte produkte, vars groente en vrugte, ander vars produkte, wildsvleis en wildsprodukte, biltong en boerebrood, koeksisters, melktert, gemmerbier, geskenke, gesondheidsprodukte, braai- en tuintoebehore, tuin ornamente, asook ’n versameling van die mooiste vetplante vir die tuinliefhebber.”
Dit alles saam met ’n wye keuse van die lekkerste kos. Die organiseerders beoog dat ten minste 80 persent van die produkte tuis- en handgemaak sal wees.
Toegang is R5 volwassenes en kinders is gratis. Die mark sal van 9vm tot 4nm oop wees.
Die Ama Zumba-dansgroep sal op 25 Mei daar wees, asook die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens se mobiele eenheid. Besoekers word aanmoedig om dié dag ook bloed te skenk.
Daar word beoog om die mark elke laaste Saterdag van die maand aan te bied.
Vir meer besonderhede of om ’n stalletjie te bespreek, skakel Kruger by 083 763 6092.
