Oud-restaurantman van Allen Grove sterf op 95
Koekemoer het in die laat 1950's 'n huis in Asterlaan gekoop waar hy en sy vrou Bettie lank gebly het
‘n Bekende oud-restauranteienaar van Kempton Park is op 13 Junie in die verswakte afdeling by Glenrus-aftree-oord in die ouderdom van 95 oorlede.
Percy Koekemoer het jare gelede Rainbow Ranch op die hoek van Partridgelaan en Cactuslaan in Allen Grove besit.
Volgens ‘n familielid, Christo Joubert, is Koekemoer die afgelope nege jaar deur ‘n engel-suster, Dora Roux, versorg. Sy is sowat ‘n maand gelede weg by die sentrum.
LEES OOK:
Breigroep verdryf die koue by aftree-oord
“Woorde kan nie beklemtoon hoe sy die pasiënte met deernis, liefde en ewige respek behandel het nie. Tannie Dora, ons is jou ewig dankbaar,” het Joubert gesê.
“Ons het oom Percy voor die inperking vir die laaste keer besoek en het geen idee gehad dat ons hom nie weer sou sien nie. Ons het wel in die tydperk medikasie en persoonlike benodighede vir hom geneem, maar kon dit slegs by die ingang afgee.
“Die wat Percy geken het, sal saamstem hy was ‘n regte gentleman. Hy het almal met respek en deernis behandel. Hy het altyd tyd gehad vir ‘n grappie en het nooit ophou werk nie. Hy was altyd besig.
LEES OOK:
AfriForum deel 30 ton kos uit aan behoeftiges
“Sy skoene het altyd geblink soos hy dit gedurig afgevee het. Wanneer mens hom besoek het, het hy saam na jou motor gestap. Dit was sy gunsteling om jou deur die oop motorvenster op die arm te tik en te sê, ‘touch for a kiss’, dan stout te glimlag voordat hy sy vingers gekruis het,” het Joubert hom onthou.
Koekemoer het in die laat 1950’s ‘n huis in Asterlaan gekoop waar hy en sy vrou Bettie lank gebly het. Sy is op 7 Oktober 2004 oorlede en Koekemoer het in die huis aangebly.
“In 2010/11 het ons agtergekom dat oom Percy se gesondheid verswak en ons het besluit om hom na Glenrus te skuif.”
Volgens Joubert het Koekemoer aan Alzheimer’s gely.
Rainbow Ranch Restaurant het ook ‘n kitskoskafee langsaan gehad.
Hier het jy die lekkerste hamburgers en wegneemetes gekry waaroor daar tot vandag toe in Kempton Park gepraat word. Hy was lank betrokke by die destydse Atlas-busdiens waar hy vir jare buitelanders, sowel as skoolgroepe, op toere regdeur Suid-Afrika en Namibië geneem het.
Hy het ook ‘n wegneemkafee in Boomstraat naby die Pretoria Dieretuin bedryf.
Joubert het vertel hoe Koekemoer vir jare omstreeks 4vm uit Kempton Park gery het om die winkel oop te sluit en het dan eers weer laataand by die huis gekom het.
Sy enigste stokperdjie was sy motors.
LEES OOK:
Theft out of motor vehicles spikes across Gauteng: boot it or lose it
“Hy was ‘n Mercedes Benz-entoesias en het die mooiste motors gehad. Soos oom Percy se skoene het hierdie motors altyd geblink.”
Hy word oorleef deur sy suster Lettie van Pretoria en sy seun Gerhard, wat die afgelope 20 jaar in Engeland bly.
Suster Dora het gesê: “Die slothoofstuk van ‘n baie spesiale en kosbare lewe is afgesluit en die boek is toegemaak. Ek gaan verseker na hom verlang, maar daar is sulke wonderlike grappies, gevalle en herinneringe wat ek gaan koester.”
Also follow us on:




