Local newsNews

Jeugie wil uitreik na ander

Dié jong man se vrygewigheid en opofferings se oorsprong lê by die huis en sy familie.

Jeugie-matrikulant Leon Smit (18) van Birchleigh het sy hart oop gemaak teenoor swaarkry en lyding en wil graag ’n publieke spreker word wat uit ervaring gesels om ander hoop te bied.

Dié jong man se vrygewigheid en opofferings se oorsprong lê by die huis en sy familie.

Leon en sy ouma, Sandra Nortjé, het op 23 September twee houthuisies wat in hul agtererf gestaan het aan die Bredell Protea Park geskenk.

“Ons was besig om te trek en my ouma wou oorspronklik die huisies verkoop, maar sy sê toe dat die Here se stem haar geïnspireer het om eerder die huisies te skenk aan mense wat minder bevoorreg is,” het Leon gesê.

In ’n japtrap het Under His Coverings (UHC), tesame met die opsigter van Protea Park, ’n bakkie gereël en die huisies daar opgerig.

“Die begunstigdes was in die sewende hemel,” het Carike Pretorius van UHC vertel.

Tydens die streng grendeltydperk, waarin duisende mense in Kempton Park in onsekerheid en onstabiliteit gedompel was, het Leon sy meisie, Leanne Spies (16), ingespan om saam kos in te samel en uit te deel.

“Ek het so program op Carte Blanche gesien waar hulle wys hoe baie gesinne deur die gerendeltydperk geaffekteer was en dit het my hart baie seer gemaak. Dis toe ek vir Carike gesê het dat ons graag wil help.”

Die limiete van sy humanitêre aspirasies stop nie daar nie, aangesien hy nog vele meer saam Carike en UHC wil aanpak.

“Toe ek klein was het my hart gaan staan vir vyf sekondes na ’n mangeloperasie, omrede my steke uitgeval het en ek baie bloed opgebring het. My oupa is ’n groot Christen en het aanhou pleit en bid totdat ek weer wakker geword het.”

Met dié wil Leon graag kinders in hospitale gaan besoek saam UHC om aanmoediging en gebed te bied aan diegene wat ly aan kanker en siek is.

“Hier is hope kinders in Kempton wat kanker het en Leon wil graag ’n uitreik doen en mense betrokke kry om vir hulle te gaan kuier en bederf,” het Carike bevestig.

“Ek weet hoe dit voel om swaar te kry en so kan ek nie verby iemand loop in so situasie en net ‘totsiens’ sê nie. Ek moet eenvoudig help,” het die tiener gesê.

LEES OOK:

Kempies kraai kultuurkoning ten spyte van Covid-19

Leon het groot geword met uitdagende omstandighede waarin alkoholisme ’n rol gespeel het en daar geslagsbaseerde geweld in die huishouding plaasgevind het.

“Ek het van kleins af geleer om op te staan teen dié soorte onreg en wou beskerming bied waar ek kon.”

Leon is ’n geruime tyd besig om Bybels in te samel as ambassadeur vir UHC om aan Keniaanse en Ugandese gevangenisse en dorpies geskenk te word.

Carike het vertel: “Ons beoog om aan 800 gevangenisse en 2 000 gemeenskaplede Engelse Bybels en Christelike kinderstories te skenk, waarvan ons die logistieke reëlings om dit soontoe te vervoer ook moet beplan.”

Indien jy graag ondersteuning wil bied aan Leon se aspirasies saam met UHC of om Bybels te skenk en by uitreike betrokke te word, skakel Leon by 067 197 2649 of Carike by 072 292 4705.

Also follow us on:      

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button