Plastiek-afval voed baie mense
Hierdie mense het so min en werk so hard in hitte, koue, sonskyn en reën vir daardie bietjie geld om te probeer oorleef

ANONIEM SKRYF:
Ons woon in Van Riebeeckpark en neem deel aan Ronnie se projek om papier te herwin met die oranje sakke wat hulle Woensdae kom optel om so ‘n klein bydrae vir ons land se natuurlike hulpbronbesparing te maak.
Iets wat my hart op hierdie herwinningsonderwerp nogal geraak het, is die mensies wat soggens vroeg met trollies die vullisverwyderingstrokke vooruitgaan om sodoende voor hulle by die swartsakke se rommel uit te kom om sodoende daaruit te haal wat vir hul ‘n geldjie kan inbring om van te leef.
Hulle maak mense kwaad omdat hulle so in die sakke grawe en dikwels nie die oorblyfsels wat hulle nie kan gebruik nie, nie teruggooi in die sakke nie en dit nie toeknoop nie.
Vandat ek besef dat hulle eintlik net die plastiek uithaal, hou ek ‘n ekstra houer in die kombuis vir al ons plastiekafval (wat nogal verstommend baie is). Ek sit in ‘n aparte deurskynende sak (as ek het), of sommer ‘n swartsak wat ek nie toeknoop nie, saam met ons rommel uit.
Hulle grawe nie meer in ons ander vullissakke nie. Hulle kom net verby en gryp die sak, gooi dit op hulle trollie en spoed voort om voor die vullisvragmotor by almal se rommel uit te kom.
So baie van ons is so bevoorreg om ‘n werk en ‘n huis te hê en genoeg geld om weekliks ‘n hele paar sakke afval/vullis uit te gooi. Hierdie mense het so min en werk so hard in hitte, koue, sonskyn en reën vir daardie bietjie geld om te probeer oorleef.
As elkeen net so ‘n houer êrens in die huis kan hê.
Intussen het my paaie gekruis met iemand wat by plastiekherwinningsaanleg werk en sy het my meegedeel dat mense nie die plastiekhouers hoef uit te spoel nie.
