
GEFRUSTREERDE BESTUURDER skryf:
Elke oggend pak ek die pad aan werk toe met Kwartel op, om 6.25vm. Elke dag as ek uit Flaminkstraat draai in Kwartel in, dan begin ons staan, ry bietjie, staan nog en so gaan dit aan tot verby die sirkel.
Dit is ‘n uiterste frustrasie om in die ry te staan, jou beurt nou maar af te wag en die taxis kom aan die regterkant verby ten koste van die aankomende verkeer. Dit is nog half aanvaarbaar, ek verwag dit van ‘n taxi.
Dit gebeur egter al hoe meer dat gewone voertuie dit ook doen, nie eers net bietjie-bietjie verby gaan en indruk en weer uit en in nie, sommer net in die aankomende baan stroomop ry, regs om die sirkel en dan verder.
Op watter stadium verloor iemand dit heeltemal met die situasie en neem reg in eie hande?
Hierdie onderwerp is nou al herhaaldelik in Express bespreek, dan staan daar dalk ‘n metrovoertuig vir ‘n dag, of hy doen presies dieselfde en die ander voertuie volg hom!
Wat moet wetsgehoorsame burgers doen om net ‘n bietjie orde te kry? Waar moet ons kla? Hoeveel keer moet ons kla oor dieselfde situasie voordat iets aan dit gedoen word, want dit word nie beter nie, elke dag, ja daagliks, kan ek sien hoe dit vererger.
