Kerke min tyd gegee om weer met kosmark te help
'Ek vind dit hartseer dat ons jarelange samewerking met Con Amore op hierdie wyse beëindig word'

DS ETIENNE FOURIE, kerklike sameroeper: Con Amore Kosmark, skryf:
Die berig in Express van 6 Augustus oor die verskuiwing van Con Amore se kersmark verwys.
Sedert 2004 behartig gemeentes van die drie susterskerke, en later ook Herfsland Tehuis vir Bejaardes, verskillende stalletjies by die kosmark tydens die kersmark.
In hierdie tyd het vrywilligers uit hierdie instansies ongeveer 17 000 ure se arbeid gratis en uit liefde verleen. ‘n Netto wins van ver meer as ‘n halfmiljoen Rand is vanuit die kosmark aan Con Amore oorbetaal.
Ek het vroeër vanjaar met ‘n ompad verneem dat die kersmark verander in ‘n kunsmark en verskuif na September.
Ek het op 15 Mei per e-pos by mnr Renier Petersen, hoof van Con Amore, navraag gedoen oor die verskuiwing van die datum en oor die voortgesette betrokkenheid van die kerke by die kosmark.
Mnr Petersen het op 26 Mei geantwoord dat hy nie namens die beheerliggaam kan of mag reageer nie en dat die beheerliggaam my in Junie sou antwoord. Tot op datum het nog ek geen reaksie ontvang nie.
Geen van die ander deelnemers aan die kosmark is ook gekontak nie. Ons kan maar net aflei dat Con Amore nie meer van die dienste van die kerke vir die kosmark gebruik wil maak nie. Dit is Con Amore se goeie reg om hulle sake te reël soos hulle wil.
Ek wil dit egter net baie duidelik stel dat die kerke net om een rede nie by die kosmark betrokke is nie en dit is omdat daar glad nie met ons oor ons betrokkenheid gepraat is nie. Ek vind dit hartseer dat ons jarelange samewerking met Con Amore op hierdie wyse beëindig word.
NASKRIF: Nadat ek hierdie brief geskryf het, het ons wel korrespondensie van Con Amore ontvang, wat ons uitnooi om voor 14 Augustus aansoek te doen om ‘n stalletjie by die kosmark te kan hê.
Die kort tyd wat vir die aansoek gegee word, asook die lys van voorwaardes wat gestel word, maak dit, ten minste vir my gemeente, onmoontlik om deel te kan neem aan die kosmark.
