Drie Kempie-rugbyspanne deur na Beeldtrofee-uitspele
Al drie die spanne se volgende wedstryde die naweek word weg gespeel
HOËRSKOOL Kemptonpark spog vanjaar met drie rugbyspanne wat in die 16 topspanne van die Beeldtrofee vir Makroskole geplaas is.
Kempies se eerste span het die kroon op ‘n baie suksesvolle naweek geplaas deur met 46-8 met Die Anker af te reken.
Die telling was rustyd slegs 14-0 en dit was eers in die tweede helfte dat die Kempies, met hul Cravenweek-haker Tinus Grundelingh aan die spits, volle beheer geneem het.
Die wedstryd was ‘n toonbeeld van dit waarvoor skolerugby behoort te staan – harde, oop en skoon rugby wat in ‘n baie goeie gees beslis is. Albei spanne behoort krediet hiervoor te
kry.
Die O/14 en O/15 spanne het deurgedring deur onderskeidelik met 15-10 teen Noordheuwel en 8-7 teen die Anker te wen.
Die O/16 span het ongelukkig met 11-12 teen Vereeniging Gimnasium vasgeval.
Kempies se spanne sal Saterdag almal weg teen die volgende spanne speel: O/14A vs Swartkopz, O/15A vs Montana en die eerstes teen Eldoraigne.


