Goeie begin vir Avion se senior spanne
Die 11 junior spanne se wedstryde skop die naweek af
AVIONPARK Senior Krieketklub het die seisoen op ’n goeie noot begin toe beide die promosie- en voorsitterspanne hul openingswedstryde laasweek gewen het.
Die promosiespan het 228/3 in 40 beurte teen Actonville gemoker en boonop dié span ook vir ’n skraal 28 lopies uitgeboul.
Marlò Blokland het 102 lopies aangeteken en is goed bygestaan deur Jacques Jacobs se 43 lopies.
Marcelle Jacobs het 5/18 gevat en Brandon Harwood 3/8.
Die voorsitterspan het ook ’n reuse totaal teen Duduza opgestapel toe hulle 355/5 aangeteken het. Die groot lopiemakers was Brandon Fryer (66), Lloyd Siebert (67), Jaco Roberts (89) en Rudi Lotz (73).
Duduza is uitgeboul vir 103. Jaco Roberts het 4/15 in vier beurte gevat, Miguel Stoman 2/17 in drie en Courtney Bam 2/18 in vier beurte.
Die voorsitterspan het hul goeie vorm voortgesit met ’n naelskraap oorwinning teen Bakerton. Bakerton het 229/5 in 40 beurte aangeteken, waarop Avion met 230/8 geantwoord het.
Die wenlopies is deur Emile van Rooyen met ’n vier vanaf die laaste bal geslaan. Ander top kolwers was Lloyd Siebert (40), Pieter Minnaar (31) en Hein McMahon (55).
Die beste boulers was Jaco Roberts 2/24 in 8 beurte en Pieter Minnaar 1/43 in 4 beurte.
In hul eerste wedstryd van die seisoen het die Avion Colts klei getrap teen United. United het 156/10 in hul 40 beurte aangeteken met Keigan Maartens wat 3/20 in 6 beurte gevat het, Devon Pienaar 3/41 in 8, Miguel Stoman 2/36 in 6 en André Williams het die beste geboul met 2/20 in 4 beurte. Avion het vasgeval met 98 lopies almal uit.
Die 11 junior spanne se wedstryde skop die naweek af.
