Oud-Kempies maak hul stemme dik in netbalreeks
Hulle maak hul stemme dik in die Brutal Fruit-netbalreeks
Vyf oudleerlinge van die Hoërskool Kemptonpark is besig om hul stemme in die land se voorste netbalreeks, die Brutal Fruit-premierliga, dik te maak.
Die vyfde lid, Charissa Lotter, het Saterdag haar buiging vir die Gauteng Golden Fireballs gemaak.
Sy volg op Talja Venter, Kim-roché Holmes (albei Fireballs), Maryka Holtzhausen (Vrystaat Crinums) en Chanté Bester (Noordwes Flames) wat in die eerste drie naweke speelkans vir hul senior provinsiale spanne gekry het.
Holthausen was in 2005 in matriek, Bester en Holmes het in 2012 gematrikuleer, Venter in 2014 en Lotter verlede jaar.
Heel interessant speel Holtzhausen, Venter en Holmes almal meestal hulpdoel.
Venter het in haar eerste wedstryd vir die Fireballs met die speler van die wedstryd-toekenning weggestap.
Soos Holtzhausen, die Protea-kaptein, is Venter ook gemaklik om doelpogings van ver afstande te waag.
“Maryka is iemand na wie ek opkyk. Omdat ek ’n baie korter hulpdoel is, moet ek dikwels van ver af pogings aanwend,en Maryka is ‘n goeie voorbeeld van ’n doelskieter wat deurlopend van ver en naby aan die doelnet haar doele sink,” het Venter gesê.
“Ek het al by geleentheid ’n foto saam haar geneem, maar sal graag nog op ’n punt wil kom waar ek haar kan uitvra en met haar oor haar sukses kan gesels.”
Venter was tot aan die einde van haar graad 11 jaar op Affies op skool, voor sy na Kempies is.
”Die skuif na Kemptonpark was baie positief vir my netbal, want vir die eerste keer was ek vir Gauteng se skolespan gekies,” het sy vertel.

