
HOËRSKOOL Jeugland se krieketliga het die afgeskope naweek begin toe die Jeugies teen Alberton High te staan gekom het.
Die eerste span het weg gespeel en die O/15’s tuis.
Die eerstes het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Met goeie vennootskappe onder die kolwers is daar drie kolwers wat uitgestaan het. Louis Geldenhuys het 103* aangeteken, tewyl JD Beetge 54 en Erhardt Steyn 53 lopies gemoker het.
Jeugland het 281/6 behaal waarna Alberton ingestuur is. Alberton se kolwers het met ‘n goeie aanslag gekom, maar het uit boulbeurte gehardloop.
Na 50 beurte was hulle op 251/8 om Jeugland ‘n oorwinning van 30 lopies te gee.
Met Jeugland se O/15’s het dit nog beter gegaan. Die Jeugies het eerste gekolf en ‘n reuse telling van 355/6 in 50 beurte opgestapel.
Die kolwers het almal hul kant gebring, maar die kolwer wat uitgestaan het, was André Williams, wat 188 aangeteken het.
Johan Nel het hom goed ondersteun met 59 lopies. Die Jeugies se boulers het vinnig met Alberton se kolwers afgereken en hulle vir 143 uitgeboul. Jeugland het met 212 lopies geseëvier.
Sewesrugby: Die O/18’s het die afgelope naweek aan die Sutherland 7’s Festival deelgeneem. Die uitslae was:
Jeugland 12 Eldoraigne 22, Jeugland 12 Wonderboom 15, Jeugland 31 HF Verwoerd 5.
In die bowl-semifinaal het Jeugland met 29-10 teen Centurion 10 gewen en die finaal met 20-5 teen Hans Moore verloor.
