Jong ruiter en haar Bella is ‘n wenkombinasie
Vanjaar het die twee beloning vir al hul harde werk gekry deur met verskeie pryse weg te stap
‘n JONG perderuiter van Laerskool Birchleigh is vanjaar aangewys as die topruiter in kategorie 1 in die Ekurhuleni SANESA-skolekompetisie.
Dit was egter nie die enigste pryse waarmee Elze Stadler (12) tydens die prysuitdeling weggeloop het nie.
Dié graad sewe-leerder het ook die trofee ontvang vir Equestrem Varietate is is aangewys as een van die top 10 ruiters vir 2016. Haar skool het ook kategorie 1 gewen.
Elze en haar ponie, Bella, het die Ekurhuleni-span vir dresseer, skouspring, in-hand en equitation gehaal en aan die Gauteng-finaal deelgeneem. By die finale het hulle ook die Gauteng-span vir dresseer, skouspring, in-hand en equitation behaal en sal in Oktober aan die nasionale skou van SANESA deelneem.

Elze se ouers het in 2014 besluit om vir haar ‘n nuwe perdjie te soek, omdat haar destydse ponie, wat intussen dood is, nie meer die stres van die skoue kon hanteer nie en haar gesondheid agteruitgegaan het.
Na ‘n lang soektog het Elze verlief geraak op Izabella. Haar ouers wou egter nie die perd koop nie, want haar kondisie was baie sleg, haar tande was uit en sy het nie die veeartstoetse geslaag nie.
Elze se hart was egter op dié perd en X-strale is aangevra om te kyk hoekom sy seer in die een been was. ‘n Yster, wat al toegegroei het, is in een van haar hoewe gevind en dit moes verwyder word. Sy was ook êrens in haar verlede as ‘n werkponie in die township gebruik en het ‘n township-brandmerk gehad.
Elze het hard gewerk, want Bella was baie bang vir alles, maar het haar (Elze) vertrou. In 2015 het hulle twee saam aan SANESA-skoleskoue vir Laerskool Birchleigh begin deelneem.
Sy het Ekurhuleni-kleure verwerf en ook die Gauteng-span gemaak in dresseer. Laerskool Birchleigh was derde in die streek in 2015.
Vanjaar het die twee beloning vir al hul harde werk gekry deur met verskeie pryse weg te stap.

