Local sportSport

Duiwevlieg loop dik in egpaar se bloed

Oom At en Tannie Lena was later stigterslede van Kosmos Duiweklub

OP 81 is Oom At Stander nog net so aktief in duiwekringe soos in sy jonger dae.

En rotsvas agter hom staan sy vrou Lena, wat al vir jare haar man se liefde vir duiwevlieg deel.

Oom At en Tannie Lena was albei stigterslede van Kosmos Duiweklub en van aftree is daar nog geen sprake nie.

Oom At, wat op 18 Februarie 1936 gebore is, het na sy skoolloopbaan as ‘n ketelmaker gekwalifiseer. Hy en Lena is in 1959 getroud en het hulle in Thabazimbi gevestig.

Sy “duiweloopbaan” het met rollerduiwe begin waarna hy later na wedvlugduiwe oorgeskakel het.

Hy het aan wedvlugte begin deelneem en in 1961 het die egpaar na Kemptonpark verhuis. Hulle het ‘n huis in Edleen gekoop waar hulle vandag nog woon.

Tannie Lena het gou net so verlief op die duiwe geraak en saam vorm hulle ‘n gedugte span as Stander Lofts. Hulle was lede van die GRPA vir twee jaar en daarna lede van Kempton Park District Homing Society.

Oom At se duiwe het goed gevaar en in 2001 het hy die uniepunte gewen asook die groot skild met sy duif THU 18421. Hy het die duif die Sondagoggend om 4.26vm geklok.

Oom At en Tannie Lena was later stigterslede van Kosmos Duiweklub en dien vir baie jare op die bestuur. Oom At was voorsitter vanaf 1991 tot 2002.

Hy het sy SANPO-kleure ontvang, wat ‘n baie besonderse prestasie vir enige duiweboer is. Hulle is tans steeds aktiewe lede en gedugte teenstanders in die klub en organisasie.

Menige beginners sal erken dat hulle baie by dié twee merkwaardige mense geleer het. Oom At is altyd bereid on te help en raad te gee.

Hy het sy erelidmaatskap by die klub ontvang en geniet dit om saam met die ander lede by braaigeleenthede en mandjie-aande te kuier.

Tannie Lena is steeds op die huidige bestuur en het onlangs ‘n toekenning van SANPO ontvang vir haar diens in die sport.

Dit is vir die klub ‘n eer om Oom At en Tannie Lena as lede te hê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button