KYK: Jessica (10) la’t wiel om die ovaalbaan
Spoed is in Jessica Alberts se bloed. Sy is die vierde geslag van jaers in haar familie.
Jessica Alberts (10) is ‘n gekontrakteerde renjaer vir STS Racing en sy laat haar nie vertel dat resies jaag net vir seuns is nie.
Laasjaar het sy ‘n 12de plek in die go-kartafdeling by Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskappe behaal. Hoe dan nou anders? Spoed is in haar bloed.
Op die ouderdom van ses het die resiesgogga reeds vir Jessica gebyt. Deur te kyk na haar bloedlyn kan ‘n mens goed verstaan hoekom.
Jessica se pa, Johan, het met dié sport begin toe hy vier jaar oud was. Hy het dit by sy pa Johan snr geleer, wie dit weer by sy pa geërf het. Jessica is dus die vierde geslag wat genot uit hierdie adrenaliengedrewe sport put.
“Sy het grootgeword met die sport,” onthou Johan jnr. “Toe kry ons vir haar ‘n kar en sy het maar hier in die tuin begin rondry. Vandag doen sy baie goed vir haarself.”
Haar pa is met reg trots. Jessica is al deel van die nasionale kampioenskappe van die ouderdom van sewe af. Sy was a, onder meer as beste opkomende renjaer op die podium.
Hierdie jong jaer wys met trots die motortjie waarmee sy wegjaag wanneer die wit en swart geruite vlag wapper. ‘n Groot nommer 17 spog aan die kant.
Jessica het self die nommer gekies, wat vernoem is na Liza van Zyl, ‘n plaaslike jaer van formaat waarna Jessica opkyk, se resiesmotor. Sharks-plakkers pronk op die res van die motor. Jessica is een van dié rugbyspan se grootste aanhangers.
Wanneer Jessica nie op die ovaalbaan doenig is nie, sit sy agter die skoolbanke van Laerskool Impala, waar sy vanjaar in graad vyf is. Hier is Afrikaans en lewensoriëntering haar gunstelingvakke.

Volgens haar is sy baie opgewonde vir skool om weer te begin. Sy droom daarvan om eendag ‘n Afrikaanse onderwyser te word. Een ding wat sy wel van skool sal verander is om resies ry deel van die kurrikulum te maak.
Jessica se ma, Lisa, sê dat dié familie al so lank in die sport is, dat sy glad nie meer bang word wanneer Jessica haar skooluniform vir ‘n resiesoorpak verruil nie. “Dit is ‘n baie veilige sport. [Dit leer kinders] om vinnig te reageer, goeie hand-oog-koördinasie te hê en om baie gedissiplineerd wees.”
Al sien Jessica nie kans om eendag super saloon-motors soos haar pa en oupa te ry nie, sal sy graag wil aanhou resies ry. Miskien sal sy self oor so paar jaar vir haar sussies Amanda (1) en Monica (3) die geheim van die ovaalbaan leer.
In pure Alberts-styl wil dié twee, volgens hul ma, altyd saamgaan wanneer daar gery word.
